OP 9 November het die NG Kerk Graaff-Reinet ’n feestelike naweek beleef met Ben van Tonder wat sy 51ste verjaardag gevier het.
Die hele gemeente was genooi vir ’n glasie wyn, ’n koppie koffie en sjokolade by die pastorie.
Sondag het die feesvierings voortgeduur deur die gemeente se verjaardag te vier wat 226 jaar oud geword het. Van Tonder het die diens gelei en sy teks het gekom uit Kol. 1:24-29. ’n Gedig is ook gelees oor die 226 jare van die NG gemeente.
Die nuut opgeknapte Coldstream-restaurant het die gemeente onthaal met koffie, tee, heerlike wortel- en sjokoladekoek en almal het lekker gekuier by dié groot bederf.
Hierdie Sondagaand, 18 November om 18:00 vir 18:30, is dit dié gemeente se jaarlikse Kerssangdiens.
Almal word genooi na ’n heerlike samesang van geliefde Kersliedere vir die hele gesin. Dit begin om 18:00 met voorafmusiek. Almal is welkom.


