Michael Smit en Johann Swiegelaar. Foto:ELSABÉ PIENAAR


“IN München steht ein Hofbräuhaus: Ein, zwein, g’suffa!”

Dít is die woorde wat jou begroet in Die Kneipe, die kroeggedeelte van die nuwe Duitse restaurant en biertuin in Kerkstraat, Graaff-Reinet.

The Bavarian het in Oktober verlede jaar sy deure oopgegooi op die perseel van die voormalige Meerkat Deli en GRT Brewery.

The Bavarian se eienaars, Johann Swiegelaar en Michael Smit, het jarelange ondervinding in die restaurantbedryf. Hulle het onder meer vir agt jaar dwarsoor Suid-Afrika restaurante vir beleggers opgerig, toegerus en geopen. Ná dié veeleis-ende swerwersbestaan het hulle besluit om hulle in Graaff-Reinet te vestig en het aanvanklik ’n opslaan-restaurant van hul huis af bedryf, waar hulle een maal per maand ’n spyskaart van ’n ander nasionaliteit aan gaste opgedis het.

Toe die geleentheid hom egter voordoen, het hulle besluit om ’n restaurant en deli te open waar gaste getrakteer kan word op tipiese Beierse disse. Michael se ouma is afkomstig van Beiere (Bavaria in Engels), ’n staat in Duitsland wat grens aan Oostenryk, en wat München as hoofsetel het.

Daar is net twee voorvereistes as jy dié eetplek wil besoek: maak jou das los, en kom honger! The Bavarian maak reeds 08:00 soggens oop, betyds vir ontbyt, en hul fynproewerskoffie stel nie teleur nie.

“Ons ligte kroegetes, soos die Bierwurst und Brezel is gewild,” het Swiegelaar vertel.

As jy ’n stewiger ete soek, begin dalk by die Kürbisuppe – ’n heerlike pampoensop met karweisaad en tiemie (sien resep op bl. 6), en bestel dan vir hoofgereg die gerookte varktjops of sappige Eisbein met suurkool en ’n aartappeldis. En vir nagereg?

“Ons kan nie eintlik voorbly met die Apfelstrudel nie!” het Smit gelag.

Dié tradisionele Beierse lekkerny verkoop daagliks uit. ’n Plaaslike slagter voorsien The Bavarian van onder meer Bockwurst, Bratwurst en Kaesekrainer (kaaswors). ’n Hele verskeidenheid koue vleise gaan eersdaags by die deli-toonbank beskikbaar wees, asook tradisionele Beierse gebak deur Desery Cane van Profit with Purpose, ’n unieke mentor-werkskeppingsinisiatief in die dorp.

Maar genoeg van kos! Die Kneipe is ’n gemoedelike, knus kuiervertrek waar mens waarskynlik van die heel lekkerste tapbiere en -gin suid van die ewenaar (gebrou deur Bridgestreet Brewery, Port Elizabeth) kan geniet – nét die ding om Graaff-Reinet se hitte ’n slukkie draagliker te maak.

The Bavarian is Maandae tot Saterdae oop vanaf 08:00, en die kombuis sluit saans 21:00. Kontak hulle by 083 342 8768.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article