Dis nie aldag dat mens die geleentheid kry om die Graaff-Reinet-museumkompleks gratis te besoek nie, maar as dit nog altyd op jou gesin se doenlysie is, dan is 16 Desember net die dag!
Die trusteeraad van dié trotse toeristebestemming in Graaff-Reinet nooi die publiek om eerskomende Maandag tussen 09:00 en 12:00 by Reinethuis, Urquharthuis, die Militêre Geskiedenismuseum, die Ou Biblioteek en die Ou Residensie te gaan inloer.
’n Intensiewe en noukeurige restourasieprojek aan dié museums is nou uiteindelik afgehandel. Die trusteeraad is opgewonde om te spog met hoe die museums nou daar uitsien.
“Ons is veral die Rupert Historiese Huise-stigting, sonder wie se ondersteuning ons nie die kolossale projek sou kon aanpak nie, groot dank verskuldig” het Anziske Kayster, direkteur van die Graaff-Reinet museumkompleks, aan Komani-Karoo Express gesê.



