Graaff-Reinet-gemeenskap praat saam oor distriksmunisipaliteit se dienslewering en begroting

Die Uitvoerende Burgemeester van die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit, Raadslid Deon de Vos, spreek die gemeenskap van Graaff-Reinet toe
Burgemeester van die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit, Deon de Vos. Credit: Verskaf

Die Uitvoerende Burgemeester van die Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit, Raadslid Deon de Vos, het onlangs ’n burgemeestersuitreik-vergadering in Graaff-Reinet aangebied.

Die doel van die vergadering was om die distriksmunisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) en konsepbegroting vir die 2025/2026 finansiële jaar te bespreek.

Dit vorm deel van die distriksmunisipaliteit se konsultatiewe proses wat daarop gemik is om deursigtigheid, aanspreeklikheid en aktiewe gemeenskapsdeelname te bevorder.

Tydens die sessie het De Vos die GOP en konsepbegroting voorgelê en die distrik se fokusareas verduidelik. Hy het ook die distriksmunisipaliteit se voortgesette verbintenis om plaaslike munisipaliteite te ondersteun in die lewering van noodsaaklike dienste, beklemtoon.

Die gemeenskap het verskeie dringende kwessies – insluitend die behoefte aan ondersteuning ten opsigte van padinstandhouding, behuisingstekorte, toegang tot gehalte-onderwys, en verbeterde gesondheidsdienste – uitgelig.

De Vos het erkenning gegee aan hierdie bekommernisse, maar verduidelik dat baie van die aangeleenthede nie onder munisipale dienslewering val nie, maar eerder die verantwoordelikheid van toepaslike regeringsdepartemente is.

In hierdie verband het De Vos die belangrikheid van geïntegreerde regeringsamewerking beklemtoon en gemeld dat alle departemente onder een sambreel behoort saam te werk om doeltreffende dienslewering te verseker.

Hy het ook die distriksmunisipaliteit se rol in die fasilitering van interregeringsamewerking, asook in die verskaffing van moontlike tegniese en strategiese ondersteuning ingevolge die Distriksontwikkelingsmodel (DOM), herbevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article