’n TOPRAM is vir R16 000 aangekoop by die onlangse Dohne Merinostoet-produksieveiling wat deur Grootfontein Navorsingstrust aangebied is by Grootfontein Landboukollege.
Dié topram is deur ASJ van der Walt van Middelburg aangekoop, terwyl die tweede duurste ram teen R15 500 aan Richard Rodgers van Middelburg verkoop is.
Kopers van so ver as Verkeerdevlei in die Vrystaat, Heidelberg Kaap en selfs Kokstad het die veiling bygewoon. Die ramme is teen ’n gemiddelde prys van R9 330 verkoop.
As oud-student van Grootfontein Landboukollege, woon Shaun Muir jaarliks die Dohne Merinoveiling by en sorg dat hy nooit met ’n leë vrag teruggaan Kokstad toe nie. Muir, wat meer as 10 ramme tydens hierdie veiling gekoop het, is baie tevrede met sy aankope en sien daarna uit om sy kudde met die uitstekende genetika van Grootfontein se Dohne Merino-ramme verder uit te brei.
Tydens die Dohne Merino-telersgenootskap van Suid-Afrika se jaarvergadering en gala geleentheid in Bloemfontein, is die Grootfontein Dohne Merino-stoet vir hul besonderse prestasie en bydraes ten opsigte van die Dohne Merino teelt, as die wenners van Streek 2 aangewys.
Marius van Heerden wat aan bewind is van die navorsingstrust se Dohne Merinostoet, is waarlik trots op hierdie prestasie en skryf die sukses deels toe aan die kundigheid van die span navorsers op Grootfontein asook die entoesiasme waarmee die stoet bestuur word.




