Marguerite Beneke se glaskuns. Foto: VERSKAF


MARGUERITE Beneke van Aberdeen beoefen glaskunstegnieke so uniek dat daar nie eintlik ’n Afrikaanse woord is wat ’n raak omskrywing daarvan kan gee nie.

Inwoners van Graaff-Reinet is bekend met haar geskilderde en gemonteerde teëls wat by “Our Yard” te koop is, maar ’n besoek aan Marguerite se tuisateljee in Hoopstraat in Aberdeen is baie interessant.

“Ek maak gebruik van ’n glaskiln, wat anders is as ’n pottebakkersoond, omdat hy spesiaal ontwerp is om platter items, soos borde, te akkommodeer,” het sy beduie.

Die glaskiln het elemente reg rondom, ten einde stelselmatige en eweredige verhitting te verseker, en verhit en smelt die kunswerke teen ’n temperatuur van 750°C-800°C, waarna dit byna ’n hele dag lank stadig afgekoel word.

“Ek werk op gewone vensterglas wat met ’n spesiale glasemaljeverf beskilder word, en hou baie daarvan om teksture in te bring.

Daarvoor voeg ek ekstra lae geverfde glas by, en gebruik ingevoerde glaskorreltjies van verskillende groottes.

“Om abstrakte werke te doen, gee haar ook groot plesier, “omdat mens jou kreatiwiteit so lekker daarin kan uitleef.”

Nadat ’n kunswerk “bymekaargesit” is, word al die verskillende lae glas uiteindelik inmekaargesmelt tydens die bakproses, en kan dit ook oor ’n gietvorm gedrapeer word om dekoratiewe glasbakke te vorm.

Die pionierswerk wat Marguerite in glasfusie-tegnieke doen laat haar nou selfs oorsee reis om werkswinkels hieroor aan te bied.

Sy het in Mei na Engeland gereis, en gaan eersdaags na Kanada waar sy klasse gaan aanbied in glasfusie-tegnieke.

“Daar het al baie versoeke gekom dat ek die klasse moet gaan aanbied, maar dit vra vir baie voorbereiding, veral as mens dit oorsee gaan doen.”

Besoek Marguerite se tuisateljee by Hoopstraat 23, Aberdeen of haar Facebookblad, Marguerite Beneke Kiln-fused Glass.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article