CHRIS Muller, waarnemende skoolhoof van Gill-Kollege op Somerset-Oos het pas sy 50ste Park Run in Port Elizabeth binne 25 minute voltooi.
Muller sê as die hardloopgogga eers gebyt het, moet jy maar oorgee.
Hy het ook al die Bruintjies-hoogtewedloop gehardloop, maar kon nie vanjaar deelneem nie, omdat hy op Vryheidsdag aan drie ‘Freedom Day’-wedlope deelgeneem het.
Om 08:00 het hy met die Lady Slipper Park Run weggespring.
Om 10:00 het hy aan die Sardiniabaai Park Run deelgeneem en om 12:00 die een by Hobie-strand, wat eindelik sy vyftigste een was.
Muller het al twee maal die Comrades-marathon gehardloop, sowel as die Two Oceansmarathon wat hy ook al vyf maal kafgedraf het. Hardloop is sy passie en hy is steeds ’n ywerige hardloper wat rekord hou van die tye wat hy hardloop.
Die Park Run is deur Bruce Fordyce vanaf oorsee na Suid-Afrika gebring en so het die gogga vir hardloop ook hier begin byt.
Die Park Run is nie ’n wedloop nie, maar net ’n gesellige, sosiale byeenkoms waar alle atlete, jonk en oud, die 5km kan geniet.
Sommige stap, ander hardloop en selfs mense in rolstoele neem deel.
Hier gaan dit oor oefening vir ’n beter, gesonde lewe en om terselfdertyd in die vars lug van die natuur te kom en ook die na- tuurskoon te geniet.
Elke Park Run verskil en juis dít maak dit interessant.
Muller het die Park Run al op agt verskillende plekke gaan hardloop – soos drie maal in Gauteng, onder meer by Riet-vlei, waar die lugdruk ’n belang-rike rol speel en ook in die mooie Franschhoek.
Nader aan Somerset-Oos is Hobie Beach, Lady Slipper en Sardiniabaai waar Muller as Baaienaar gereeld deelneem.
“Dit was ’n aangename ervaring om al drie op dieselfde dag te doen,” het Muller gesê terwyl hy al weer sy hardloopskoene regkry vir sy 51ste Park Run.



