TUSSEN die donderweer, blitse en heerlike reën wat Saterdag, 2 Februarie op Middelburg uitgesak het, het ongeveer 200 dames van Middelburg geskaterlag tydens die Giggelgeel-damesdag wat by die Klaassensaal aangebied is.
Ronél Gouws van die NG Kerk Middelburg-Karoo het die middag geopen, waarna die dames onverwags betrap is met ’n kompetisie om ’n skepping uit koerantpapier en ander herwinbare items te maak.
’n Gebrek aan inisiatief was daar glad nie en was dit moeilik om ’n keuse tussen die 25 modelle se moderne skeppings te maak.
Nadat vyf finaliste gekies is, is Tattie Donian met haar polkadot-en-koerant uitrusting as wenner aangewys.
Lagterapeut Celeste van der Walt van Port Elizabeth het eers ’n klomp vraagtekens op die vrouens se gesigte laat opduik toe meeste gaste verwag het om te kom lag vir grappies wat vertel gaan word, maar op die ou end verskeie grappige bewegings moes maak terwyl daar behoorlik uit die maag saamgelag is.
Volgens Celeste het tien minute van lagterapie dieselfde waarde as ’n halfuur in die gym!
“Dis die enigste oefenprogram wat jou ook spiritueel gesond maak en gesond hou. Lagterapie- oefeninge is anders as kinderagtig, verspot of laf, dit bring die kinderlike speelsheid in jou uit en is verseker aansteeklik!” het Celeste die vrouens voorberei op die ligte oefening vol lag en kraai van ge-not wat toe gevolg het.


