Die perdedrinkbak soos hy onlangs gelyk het. FOTO: WILNA DE KLERK


EEN van Cradock se bekende landmerke, die perde-drinkbak in Frere-straat, is Maandag afgetakel en van sy staanplek verwyder.

Belangstellendes hoef egter nie be-kommerd te wees nie – dis nie vandale aan die werk nie, maar Christo Schoeman van Cradock Wrought Iron se werkers wat besig is om die stukkie geskiedenis na hul werkswinkel, waar dit ten volle gerestoureer gaan word, te verskuif.

Die drinkbak is in 1902 op die kruising van Frere- en Durbanstraat opge-rig om die kroning van Koning Edward VII van Engeland te herdenk.

Die 3,75 meter hoë monument, wat eintlik ’n drinkfontein genoem moet word, bestaan uit ’n waterbak vir perde met ’n kleiner bakkie op die grond waar honde kon drink. Die deursnee van die ronde potyster drinkbak is bykans twee meter en dit rus op vier gegote perdepote. Die ryk versierde steunpilaar in die middel het vier uitstaande steuntakkies waaraan waterbekertjies aan kettings gehang het sodat perderuiters ook hul dors kon les.

Teen die regop middelpaal met ’n lamp bo-op is ’n skild met die geskiedenis van die drinkfontein aangebring. Dit blyk dat elektrisiteit vanaf die destydse polisiekantoor na die fontein herlei is. Die drinkfontein, wat deur die jare ook maar onder die hande van vandale deurgeloop het, het sy finale knak in 2017 gekry toe ’n motoris daarin vasgejaag het en onder meer twee van die vier perdepote waarop die bak rus, gebreek het.

Die restourasie van die perdedrinkbak is ’n inisiatief van lede van die Cradock-klub. Dit sal ná restourasie vir veilige bewaring in die grond van die klub opgesit word.

Verlof om die monument te verskuif is reeds van Inxuba Yethemba-munisipaliteit, sowel as die Erfeniskommissie verkry. Enigiemand wat hierdie verdienstelike saak wil ondersteun kan bydraes soos volg inbe-taal: Nolte Smit Prokureurs, ABSA bank, rekeningnommer 405 235 5592, takkode 632005 en die verwysing moet HOR7/0001 wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article