Vergeet van die see en strande wat gesluit is. . . Geniet dié vakansie avonture wat hier op Cradock se drumpel en op die Groot Visrivier aangebied word.
Dwayne de Beer, wat op dié Karoodorp bekend is vir die heerlikste koffie en soetgoed wat hy op bestelling aflewer, bied dié vakansie verskeie vermaaklikheidsaktiwiteite en avonture aan – binne streng COVID-19-regulasies.
Witwatervaarte op Groot-Visrivier
Wat kan nou lekkerder wees as om onder die Karoo se warm somerson op die wilde waters van die Groot Visrivier rond te kerjakker?
De Beer is ’n gekwalifiseerde riviergids en bied witwatervaarte oor afstande van vier en twaalf kilometer aan.
Hy sê wanneer ’n groep uit meer as vier mense bestaan, kry hy die hulp van nog gidse in, maar andersins hanteer hy alles self.
Avontuursoekers kan ook groot pret hê wanneer hy hulle met binnebande, vir vier kilometer, stroomaf op ’n rond-hop vaart neem.
Verfbalskiet op die dorp
Vir die meer “veglustiges” wat van hul frustrasies en opgekropte energie wil ontslae raak, is daar verfbalskiet wat op ’n spesiaal geboude baan by die Voortrekkersaal aan die einde van Dearylaan aangebied word.
Paalswaai of abseil
As skietery en wegkruip nie vir jou senuwees is nie, kan jy ’n ander ondervinding van jou lewe geniet, deur tien meter hoog tussen twee pale rond te swaai!
De Beer se pa, Wayne en sy vennoot Hannes de Waal, bied ook gedurende die vakansie abseil teen die kranse net buite Cradock aan.
Die twee is spesiaal opgelei vir hierdie avontuur en dit bied aksie vir mense wat van hoogtes hou.
Vir dié avontuur word ’n groep van ses mense op ’n keer uitgeneem. Al die gespesialiseerde toerusting vir die sport word deur De Beer en sy span verskaf.
- Vir meer inligting oor die avonture of om solank jou plek te boek op een van die vaarte bel De Beer by 078 068 8579.

