DIE gemeenskap van Middelburg is geruk deur die skielike dood van ’n geliefde gemeenskapsdokter wat een van die eerste studente was wat sy mediese opleiding in Kuba ontvang het.

Dr. Nikkie Padda (36) is Maandag omstreeks 19:00 in ’n motorongeluk dood op die N10 tussen Middelburg en Cradock.

Wyle Dr. Nikkie Padda. Foto:VERSKAF

Die oorsaak van die ongeluk kon nie met sekerheid vasgestel word nie, maar merke op die pad toon dat Padda beheer oor die voertuig verloor het, waarna dit die pad verlaat en gerol het. Twee insittendes, wat aan Padda bekend was, het ná die ongeluk probeer om sy veiligheidsgordel los te maak en hom uit die wrak te haal, maar kon nie die deur oopkry nie.

Die motor het aan die brand geslaan en Padda het in die voertuig doodgebrand. Nooddienste het die twee passassiers na die Cradock-hospitaal vervoer, waar die een man later aan sy beserings beswyk het. Die oorlewende is Woensdagoggend na ’n hospitaal in Port Elizabeth oorgeplaas.

Padda was ’n boorling van Middelburg en sedert September 2015 ’n staatsdokter by die Wilhelm Stahl-hospitaal op die dorp. Hy het op Cradock gewoon en het daagliks na Middelburg gery.

“Nikkie was ’n darling van ’n man,” het sy broer Ringle Padda aan die Mid-Karoo Express gesê.

“Hy het ’n wonderlike aanslag met ál sy pasiënte gehad, maar hy het ’n baie sagte plekkie vir kinders gehad. Hy wou graag eendag ’n privaatpraktyk in Middelburg begin om sy tuisdorp se gemeenskap te dien. Ons, as hegte familie, het reeds planne beraam om hom te help om hierdie droom te verwesenlik. Sy dood is vir ons ongelooflik tragies,” het Ringle gesê.

Bjorn Johnson,’n goeie vriend van Dr. Padda, sê hy sal hom altyd onthou as ’n behulpsame, saggeaarde mens. “Ons het saam grootgeword en ná skool as boukon-trakteurs in Port Alfred gaan werk. Dit was swaarkrydae, en ons het saam besluit om onsself uit ons armoedige omstan-dighede op te werk. Al het hy later ’n medi-kus geword, het Nikkie sy nederigheid en menslikheid behou – dit was iets wat ek baie van hom waardeer het.”

Padda laat sy vrou, Rose, en twee seun-tjies agter, asook sy moeder (steeds ’n inwoner van die Midros-woonbuurt in Middelburg) en sy broer, Ringle. Sy begrafnis word beplan vir Saterdag, 14 September.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article