DIE Hofmeyr-gemeenskap het die afgelope Sondag ’n uitspandag langs die Brakrivier meegemaak.
Almal het vroeg opgedaag om ook die diens deur ds. Marius Barnard by te woon in die lapa.
Daarna kon elkeen wat wou die “river rafting” -ervaring meemaak, onder leiding van James Jordaan en sy bekwame lewensredders wat Sondag aan diens was.
Karoo River Rafting het as gasheer opgetree, en hul lokaal en grasperke, swembad en geriewe beskikbaar gestel vir die dag. Op die vooraand van hul groot en besige seisoen is alles reeds in gereedheid vir die vakansie wat voorlê.
Die dames van die Vrouediens het vooraf groot planne gemaak, en ’n uithaler middagete is voorgesit, nadat die manne die vleis oor die kole voorberei het.
Piekniekkomberse, sonsambrele en gazebo’s was aan die orde van die dag en die weer het heerlik saamgespeel – daar het nie eers ’n ligte briesie gewaai nie.
Almal wat aan die ervaring op die rivier deelgeneem het, was dit eens dat dit ’n heerlike uitdaging was, en dat hul dit graag weer sou doen, as die geleentheid hom sou voordoen.
Ouers met kleiner kinders het maar ogie gehou, en die dierbare labrador Nina, van James en Delina Jordaan, het pal in die water gespeel terwyl die kinders vir haar stokke gegooi het om te gaan haal.
Sy was deurgaans deurnat, daar waar sy saam met die kleinspan in die breekwater van die Brakrivier gespeel het.



