Die kerk se brigade lei die gemeente tydens die optog vanaf die ou swembad tot by die kerk om die 200ste bestaansjaar-vieringe te begin. Foto:VERSKAF

DIE Verenigende Gemeente Kerk van Graaff-Reinet het op 1 Augustus amptelik 200 jaar oud geword.

Die gemeente het op 4 Augustus die feesvieringe met ’n biduur gelei deur ds. Petrus Gysman begin. Die Sondag-oggend diens het begin met ’n optog vanaf die ou swembad tot by die kerk, begelei deur die kerk se brigade.

Tydens die diens het die Sondagskoolkinders ’n kers-seremonie gehad, die senior-kategese het Psalm 23 in drie tale gelees en die kerkkoor en junior-koor, asook die kerkkoor van Jansenville, het die diens opgevrolik met sang.

Die leraarspaar ds. Gysman en sy vrou, Liezelle, het ook die feesgedenksteen tydens die diens onthul. Die diens is afgesluit met die nagmaal wat waargeneem was deur ds. Ricardo Kayster, een van die vyf gemeente- kinders wat predikante in die VGK geword het.

Die ander vier wat predikante geword het, is ds. Chris Meyer, ds. Calvyn Smith (Meyer se kleinseun), ds. Martin Bosch en ds. Llewelyn Smith.

Die gemeente het die Rings-gemeentes van Aberdeen, Graaff-Reinet Noord, Jansenville, Middelburg Midros, Somerset-Oos en Murraysburg vir hul teenwoordigheid bedank, asook die plaaslike kerke, NG Kerk, Metodiste Kerk, Oosstraat en Pastoriestraat Congregational Kerke vir hul teenwoordigheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article