Dr. Llewellyn Macmaster (middel), moderator van die VGKSA Kaapland, het Sondag die prediking tydens Midros-gemeente se 165ste bestaansviering waargeneem. By hom is (van links) di. John Links, Clive Jacobs, Jury van Rooy en Petrus Gysman. Foto: ELSABÉ PIENAAR


DIE Midros-gemeente van die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika het die afgelope naweek hul 165ste bestaansjaar gevier.

Die naweek se verrigtinge is Sondag met ’n spesiale erediens afgesluit.

Verskeie voormalige predikante van die gemeente het dié nagmaaldiens bygewoon, en die moderator van die VGKSA in Kaapland, ds. dr. Llewellyn MacMaster het die prediking waargeneem.

Boodskappe van gelukwensings van voormalige predikante wat nie die verrigtinge kon bywoon nie, is voorgelees, en daarna is ’n oorsigtelike geskiedenis van die gemeente deur Richard Jacobus vertel.

Eerwaarde John Bennie, wat in 1821 uit Skotland in Suid-Afrika voet aan wal gesit het, het onder andere diep spore in Murraysburg getrap, voordat hy in 1850 na Middelburg gekom het. Die Midros-gemeente is amptelik in 1853 gestig.

Predikante soos dr. Ellen Olivier en ds. HP van der Merwe het nie net as leraars van die gemeente bedien nie, maar hul ook beywer vir die oprigting van skole in Midros. Vandag nog is die twee laerskole in dié gemeenskap vernoem na dié twee predikante. Ds. Jury van Rooy, wat die gemeente van 1972 tot 1975 bedien het, was die gemeente se eerste bruin predikant, en die gemeente was baie opgewonde om hom Sondag in hul midde te kon verwelkom. “My gebed is dat die gemeente steeds van krag tot krag sal gaan, en ek seën julle met Jer 31:21,” het Van Rooy gesê.

Midros se gemeentekoor, Jansenville se kerkkoor en die plaaslike koperblaasjeug-orkes het luister verleen aan die geleent-heid. Die gemeente beplan om eersdaags ’n herdenkingsboek uit te gee, waarin die kleurryke geskiedenis van die VGKSA in Midros volledig opgeteken is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article