Haweloses in Graaff-Reinet het ’n veilige heenkome gevind in die Alex Laing-saal in Kroonvale vir die duur van die Covid-19 inperkings. Foto: VERSKAF

EEN van die vele uitdagings wat saam met die nasionale Covid-19 inperking gekom het, was die huisvesting van haweloses in Oos-Kaapse dorpe.

In Graaff-Reinet het dit deursettingsvermoë en spanwerk gekos, maar uiteindelik is ’n plek van veiligheid ingerig om haweloses ’n heenkome te bied totdat die inperking op 16 April verstryk. Die plaaslike polisiediens het reeds verlede Vrydag haweloses by die Alex Laing-saal in Kroonvale besorg, maar omdat feitlik almal steeds swaar onder die invloed van drank en dwelmmiddels verkeer het, was dié poging tot tydelike huisvesting nie suksesvol nie.

Teen Sondagoggend het die polisie, Gift of the Givers, Smhart en CDK Sekuriteitsmaatskappye egter daarin geslaag om haweloses by hul skuilplekke, soos die ou swembad en Oval sportgronde, te gaan oplaai en weer by die Alex Laing-saal te besorg.

Hier is matrasse, komberse, klere, skoene en persoonlike higiëne items aan haweloses uitgedeel, terwyl die plaaslike tak van Pick ’n Pay waslappe en sponse geskenk het.

In die Covid-19 voedingskema het Gift of the Givers hande gevat met die departement van maatskaplike ontwikkeling, Sassa en die munisipaliteit, terwyl plaaslike onderneming Pak Food vermoeid sal wees met die voorbereiding van drie etes per dag. Einde ten laaste het individue wat van die voedingskema te hore gekom het, kontant-donasies gemaak en kosskenkings op hul stoepe gelos wat Corene Conradie kon gaan kollekteer, terwyl die NG Grootkerk ook voedselbydraes gelewer het.

“Ek is in trane…God is so goed,” het Conradie teen die einde van Maandag haar dank uitgespreek vir die spanwerk wat deur die gemeenskap aan die dag gelê is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article