DIS nie elke kliënt van Cradock Spar wat te voet by die winkel opdaag en daarna met ’n splinternuwe Hyundai i10-motor wegry nie.
Dit is egter die geluk wat Elrina Nortjé onlangs beleef het. “Ek het ’n ruk gelede ingeskryf en skoon daarvan vergeet,” het sy vertel.
“Toe my telefoon ’n week of so gelede lui en ’n man kondig aan dat dit Spar se hoofkantoor is, het ek sommer die foon doodgedruk, want ek het gedink hy smous iets. Toe hy ’n dag of wat later weer bel, het ek na hom geluister, maar gladnie sy storie geglo dat ek ’n kar gewen het nie.”
Elrina sê sy was steeds skepties, maar toe ’n koevert met ’n motor se registrasiedokumente by haar opdaag, het die wonderwerk vir haar ’n werklikheid geword.
“Dis my eerste kar,” het sy opgewonde uitgeroep toe Keith Tam van Cradock Spar die sleutel aan haar oorhandig het.
Die kompetisie, wat agt weke geduur het, was oop vir alle Spar-kliënte landwyd.
Elrina het haar nuwe motor onder groot belangstelling ontvang en met die mooi rooi motortjie, wat met balonne getooi was, van die Spar af weggery.



