MIDDELBURG se talentvolle saksofoonspeler Darren Jacobus het nie tyd vir stilsit nie.
Dié jong musikant het einde Maart nie net ses goue medaljes ontvang tydens die nasionale Talent Africa kompetisie in Roodepoort nie, maar is ook as algehele wenner van die senior afdeling aangewys, en het hiermee ’n reis na New York gewen.
Van 31 Maart tot 7 April het Darren in Rustenburg aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste deelgeneem waar hy die titel van algehele kategorie-wenner én manlike hoofkampioen instrumentalis ingepalm het.
Op 17 Mei sal hy deelneem aan ’n musiekopvoering, Dreams, in die Roodepoort teater, en op 30 Mei behartig hy die voorvertoning van komediant Virgil Prins in die Lyric teater in Johannesburg.
In Julie gaan Darren na Los Angeles in Kalifornië as spanlid van die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste (SACOPA) om aan die wêreldkampioenskappe vir uitvoerende kunste deel te neem.
“Ek het myself vanjaar gedruk om my beste te doen en ’n beter musi-kant te wees as wat ek nog ooit was. ’n Weldoener van Kalifornië, David Wilson, het ’n spesiale saksofoonmondstuk aan my geskenk. Dit is ’n duur soort wat ongeveer R3000 werd is, en het op die regte tyd by my uitgekom en my baie gehelp om beter te speel en suksesvol te wees.”
Darren is intussen genomineer vir die jaarlikse Gabriel Global Gospel Awards in die afdeling gospel instrumentalis. Die wenner word op 8 Junie aangekondig, en lesers kan vir hom stem deur “GGGA 70” te SMS na 33903.
“Dit is maar net die Here wat vir my al hierdie deure oopmaak,” sê Darren, wat ’n trotse inwoner van Midros is. “Ek wil graag almal bedank wat my ondersteun. Ek is dankbaar vir ’n gemeenskap soos Middelburg. Soos ek altyd sê, Middelburgkind en Droskind van kleintyd af!”
Besighede en individue wat graag vir Darren wil help om uitgawes te dek sodat hy albei reise na Amerika kan onderneem, kan Darren se pa en bestuurder, Richard Jacobus, kontak by 071 889 9351 of jacobusr@webmail.co.za



