DIE departement van paaie en openbare werke het skynbaar heeltemal van Middelburg vergeet.
DA-raadslid Handri Vorster het in ’n mediavrystelling gesê dié dorp se eenheid ontvang al ’n geruime tyd lank geen ondersteuning van die departement nie, en beskik ook nie oor enige materiaal om selfs net die heel dringendste herstelwerk aan paaie te kan doen nie.
Volgens Vorster is verskeie skrywes hieroor al aan die Chris Hani-streek se tegniese ingenieur by die departement gerig.
Boonop is die afdelingshoof van die Middelburg-eenheid van die departement (mét sy voertuig) in Junie 2018 na Cradock oorgeplaas is. Geen plaasvervanger is in dié pos aangestel nie.
In September 2018 het die distriksingenieur ’n oorsig in die dorp gedoen en onderneem om aandag te gee aan belastingbetalers se dringende versoeke. Van dié beloftes het in dié stadium nog niks gekom nie.
Die departement van paaie en openbare werke is verantwoordelik vir ’n gedeelte van die R56 vanaf Loopstraat, via Kerk- en Jubileestraat, in die rigting van Midros se ingang, en die glipweg vanaf die stasie na die N9.
“Die slaggate in Kerkstraat is so erg dat motoriste soms nie anders kan as om op die sypaadjies te ry nie, en dit het nou al verskeie kere byna tot lelike ongelukke gelei,” het Vorster gesê.
“Ons word weekliks toegegooi onder klagtes van die publiek wat die departement wil dagvaar vir skade aan voertuie, en inwoners dreig selfs om die pad te versper.”
Ook die glipweg vanaf die spoorwegstasie in die rigting van die N9 is in ’n swak toestand, terwyl die brug besig is om te disintegreer.
“Die departement se gebrekkige administrasievermoë en hul blatante versuim om hul verpligtinge na te kom, belemmer ons dorp se ekonomiese groei,” het Vorster gesê.
“Die Middelburg Truck Stop verloor besigheid omdat swaarvoertuigbestuurders dit nie op die slegte paaie soontoe waag nie.”
Sy het gesê die saak is onder die aandag van die skadu-LP van vervoer, Marshall von Buchenroder, gebring.
“Dit is die departement van paaie en openbare werke se konstitusionele plig om die provinsiale paaienetwerk te onderhou,” het Vorster gesê.


