DIE swaar weer die afgelope Maandag het nie net verligting vir die droë Cradock gebring nie, maar ook groot skade, wat tot groot protes onder inwoners gelei het.
Weerlig het Maandag ’n substasie hier ge-tref, wat veroorsaak het dat daar geen krag- toevoer na die dorp was nie. Maar teen gister het die inwoners van die dorp, veral van Michausdal en Hillside, se geduld opgeraak aangesien daar ook geen water beskikbaar was nie en die krag steeds af was. Groot dele van die gebied, insluitende die gevangenis, was sporadies sonder krag en/of water.
“Met die kragonderbrekings kon water nie na die reservoirs gepomp word nie, wat tot ernstige watertekorte op die dorp – veral die bo-dorp – gelei het,” het ’n verklaring wat op die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) se Facebook-blad uitgereik is, gelui.
Betogings was gister weer aan die orde van die dag en die hoofpaaie na Port Elizabeth en Komani is met brandende bande en klippe versper. ’n Groot skare betogers het later die middag ook voor die munisipale kantore by-mekaar gekom, voor hulle deur raadslede toegespreek is.
Die situasie was plofbaar aangesien Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM) vir IYM blameer het dat hulle weens ’n gebrek aan elektriese toevoer nie water na die toevoerdamme kon pomp nie.
“Die kragonderbreking in Cradock het die watertoevoer na die dorp geaffekteer en waterreserwes is uitgeput,” het CHDM op hul Facebook-blad gesê.
Intussen is watertenks gistermiddag vanuit Komani (Queenstown) laat kom om die gemeenskappe van water te voorsien. Teen druktyd was IYM steeds besig met die herstelwerk aan die substasie.

