DARREN Jacobus, ’n talentvolle jong saksofoonspeler van Midros, het ’n groot eer te beurt geval toe hy genooi is om aan Britain’s Got Talent – ’n internasionaal bekende TV-program – deel te neem.

Die organiseerders van dié gewilde talentkompetisie in Brittanje het Jacobus in Julie vanjaar in New York raakgesien toe hy as die afdeling-wenner van instrumentaliste in sy ouderdomsgroep by die 45ste Talent America-kompetisie aangewys is.

Jacobus is baie opgewonde oor die uitnodiging om in Brittanje te gaan optree. Hy het vanjaar hard geskaaf aan sy talent en was gelukkig om sedert sy terugkeer uit Amerika ’n paar optredes te kon doen.

Dié jong man met sy nederige geaardheid het egter nou die hulp van die gemeenskap nodig, aangesien hy nie die fondse het om na Brittanje te reis nie. Jacobus, wat in 2017 aan Kovsies studeer het, se studies is onderbreek deur die Fees Must Fall-oproer. Hy is verhoed om sy eksamens almal te voltooi en kon weens gebrek aan fondse nie die duur hereksamens aflê nie.

“Ek glo tóg Hy kan alles ten goede vir mens laat meewerk, so ek verloor nie moed nie,” het hy vertel.

Selfs die frustrasie dat hy nie tans naby iemand is wat hom verdere saksofoononderrig kan gee, stuit sy drome nie. “Ek hou maar aan oefen, skuif my grense en probeer leer wat ek kan vanaf die internet.”

Jacobus se pa, Richard, glo dat sy deelname aan Britain’s Got Talent sy musiekloopbaan ’n broodnodige hupstoot kan gee.

“Ongelukkig het ons bitter min tyd om genoeg fondse bymekaar te maak, aangesien die oudisies reeds op 24 November gehou sal word. Sy totale reis- en verblyfkostes sal ongeveer R20 000 beloop.”

Enigiemand wat Jacobus wil help om sy drome vlerke te gee, kan Richard by 071 889 9351 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article