Freda Bezuidenhout aan die woord op Cradock ten tye van die bekendstelling van haar digbundel “Doudruppels”. Foto:VERSKAF


DIE Oos-Kaap het nóg ’n digter ryker geword. 

Dit nadat Freda Bezuidenhout (55) haar debuutdigbundel getiteld Doudruppels in die Sonskynsentrum van Michausdal op Cradock bekendgestel het.

Sy sluit nou aan by ’n groep skrywers soos onder meer haar dorpsgenoot Clinton du Plessis wat hul eie werke publiseer, uitgee en ook self bemark.

Freda, wat in Michausdal grootgeword het, het gesê dat sy al van haar kinder-jare baie lief vir skryf was.

“Ek het as kind gereeld situasies gedramatiseer en dikwels die gedigte wat ons geleer het, aan my opvoeders voorgesing,” sê Freda.

Op die oog af is al Freda se gedigte in die bundel van 54 bladsye gebore uit omstan-dighede in haar woonbuurt wat ’n invloed op haar lewe gehad het.

“Daar lê nog baie ink en hordes woorde in my brein weggebêre. So, ek werk reeds volstoom aan my volgende bundel,” sê Freda.

Die bekendstelling van Freda se Doudruppels is deur onder meer die burgemeester van die Inxuba Yethemba-munisipaliteit, raadslid Noncedo Zonke, asook ander hooggeplaaste munisipale amptenare, kerkleiers sowel as amptenare van die Oos-Kaapse Departement van Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur bygewoon.

Ten tye van haar boeiende en pittige toe-spraak het sy hulde gebring aan almal wat haar deur die jare gemotiveer het. Sy het veral verwys na die nonne van die kloosterskool waar sy vele van haar skooljare deurgebring het, onderwysers van die nuwe hoërskool op Michausdal sowel as haar mede-matrikulante wat deur die jare vir haar ’n groot ondersteuningsbasis was.

Die publikasie van Freda se bundel is moontlik gemaak deur ’n inisiatief van die Departement van Sport, Ontspanning, Kuns en Kultuur wat die eerste honderd kopieë van haar bundel befonds het.

Roseline Kameli van die departement se tale-afdeling het die befondsing deur die departement van stapel gestuur. Kameli het ’n beroep op aspirant skrywers gedoen om hul distrikkantore te nader indien hulle enigsins hulp met die publisering van ’n boek sou verlang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article