Francois Andlau. Foto:VERSKAF


FRANCOIS Andlau, ’n rekenmeester van Graaff-Reinet, is onlangs genomineer vir die 2019 Eliasson Globale Leierskapprys wat jaarliks deur die Tällberg Stigting in Stockholm, Swede toegeken word.

Francois het in Augustus 2018 sy intrek in Graaff-Reinet geneem, waar hy vir ses maande lank as vrywilliger by Boundless Beskermde Werkplek met rekenaarprobleme en personeelopleiding behulpsaam was.

Intussen het hy sy eie rekeningkundige praktyk op die been gebring, en spog reeds met 19 gereelde kliënte waarvoor hy bestuur- en finansiële state opstel.

Dis moeilik om te glo dat dié agtermekaar rekenmeester se lewenspad jare lank ontspoor het, en sy lang pad na genesing is eweneens interessant.

“My storie van ongesteldheid begin in 1988 tydens my militêre diensplig in 1 Spesiale Diensbataljon in Tempe, Bloemfontein, toe ek vanweë onnatuurlik intensiewe opleiding breinskade opgedoen het,” het Francois vertel.

“Ek het nietemin my twee jaar diensplig voltooi en daarna my B.Rek-graad aan die Universiteit van Stellenbosch binne drie jaar voltooi. Ek móés eenvoudig, want geld vir meer as drie jaar se voltydse studies was daar eenvoudig nie.”

Francois het ná sy studies ’n leerkontrak by Coopers & Lybrand in Kaapstad voltooi, en in Desember 1997 vertrek na die Verenigde Koninkryke waar hy aan projekte van die jaar 2000-stelsel gewerk het.

Hy het deeltyds kontrakwerk gedoen by onder andere BNY Mellon, Deutsche Bank in London, Zurich Financial en GE Capital in Bristol, en die geleentheid gebruik om deur Europa en die VSA te reis.

“In Januarie 2000 het ek teruggekeer na Suid-Afrika en vir vyf jaar by Sanlam gewerk waar ek onder andere rekeningkundige toetswerk op sagteware uitgevoer het.

“Gedurende hierdie tyd het ek ’n belangstelling in e-handel ontwikkel en my eie virtuele winkel gepubliseer waarmee ek meer as 40 000 klein finansiële sagteware programme en Excel-sigblad template wêreldwyd versprei het.”

Ongelukkig het Francois se gesondheidsprobleme hom telkens vir weke op ’n slag in die hospitaal laat beland, en het hy in 2011 bankrot gespeel weens sy aanhoudende siekte. Met sy laaste $200 het hy na sy broer, Etienne, in Kalifornië verhuis, met die hoop om verdere mediese behandeling te kry.

“’n Fantastiese dokter van Texas, Pam Grimes, wat bekend was met die soort gesondheidsprobleme waarmee Amerikaanse oorlogsveterane van Irak en Afghanistan worstel, het my uiteindelik korrek gediagnoseer in 2012, 24 jaar ná my diensplig in die SAW. Sy het my dadelik op die korrekte medikasie geplaas.”

’n Dankbare Francois verklaar dat hy nou al sewe jaar gesond is, en dat hy hom op aanbeveling van familie in die rustige Karoo kom vestig het.

“Hier in Graaff-Reinet is ek nou baie gelukkig. Ek werk tans verder aan my jongste e-handel portaal – Filescapes.com, het al heelwat goeie vriende gemaak en beplan om hier af te tree.”

Francois het sy vele interessante reisvertellinge in boekformaat vrygestel (A Time Less Traveled, Amazon.com) en spits hom verder op die uitbreiding van sy kliëntebasis in Graaff-Reinet toe.

Die wenner van die 2019 Eliasson Globale Leierskapprys sal in Oktober deur ’n internasionale paneel beoordelaars aangewys word. Francois kan gekontak word by 072 587 9700.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article