Lloyd Orai, ’n onderwyser aan die Newtown Junior Sekondêre Skool, wys na ‘n deel van die Hoërskool Newtown se grensdraad wat reeds weggedra is. foto:NOLAN VENTER


DIE skoolhoofde en skoolbeheerrade van drie skole in die Newtown-woonbuurt op Fort Beaufort sit met die hande in die hare nadat dié skole vanjaar erg onder vandalisme deurgeloop het.

Die skole se instandhoudingsfonds is lankal reeds uitgeput omdat dit wat reggemaak word, net weer gesteel word. Dis veral die skole se heinings wat geteiken word.

Luidens Craig Fester, skoolhoof van die Newtown Junior Sekondêre Skool moes hy vanjaar drie maal nuwe heinings by sy skool aanbring.

“Die booswigte sny eers al die ankerpale wat met beton geplant is net bo-kant die grond af en dra dit weg, net om die volgende aand die draad te kom oprol en ook daarmee te verkas. Hulle is nie eers bang vir die vlymskerp lemmetjiesdraad nie,” het ’n ontstoke Fester gesê.

By die aangrensende Hoërskool Newtown gaan dinge nie beter nie. Ook daar moes die heining al verskeie maal weer opgerig word. Beeste, bokke en rondlopervarke het vrye toegang tot die skoolterrein. “Ons weet nie meer wat om te doen nie. Hulle steel selfs die vulliskanne en gaan verkoop dit aan die skrootwerwe. Ons skoolklok is ook onlangs gesteel en vermoedelik by een van die skroothandelaars gaan verkwansel,” het ’n moedelose Marjorie Fester, skoolhoof gesê.

By St. Joseph’s Primêre Skool is ’n paar klaskamers se veiligheidsdeure uit hul rame gesteel en weggedra.

Desmond Gysman, waarnemende skoolhoof, het dwelms die skuld vir die skole se verliese gegee.

“Die dwelmverslaafdes dra alles weg waaruit hulle ’n sentjie kan ver-dien om in hul behoeftes te bevredig,” het Gysman gesê.

Met die naderende skoolvakansie is die drie skole se beheerrade nou reeds bekommerd oor wat hulle aan die begin van volgende jaar kan verwag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article