DANSERS van die Fort Beaufort Dancing Stars was op hulle tone die afgelope Saterdag by ’n danskompetisie in Makhanda (voorheen Grahamstad) waar hulle behoorlik die titels ingeryg het.
’n Totaal van 13 dansklubs van oor die hele Oos-Kaap het aan dié Sarah Baartman Distrik Danskampioenskap deelgeneem. Dit is onder groot belangstelling in die Makhanda-stadsaal aangebied.
Die Fort Beaufort Dancing Stars het met ’n totaal van 16 trofeë by dié gesogte kompetisie weggestap.
Luidens Regan Afrika, afrigter van die Fort Beaufort dansers, was die kompetisie straf en dansers van uitsoekgehalte.
“Ons dansers moes diep delf om sukses te proe,” het ’n oorstelpte Afrika gesê.
Die dansklub se vyf danspaartjies wat deelgeneem het, het almal aan die einde van die dag sukses behaal.
Vir Afrika is dit veral verblydend dat van sy lede vir die eerste keer kompeterend ge-dans het.
“Danksy harde oefening en toegewydheid het hulle in hul eerste kompetisie reeds sukses behaal. Dit spreek boekdele vir hul toe-koms,” het Afrika gesê.
Dit was ook die heel eerste keer dat hy met sy nuwe dansmaat, Britney Ward, aan ’n kompetisie deelgeneem het. Hulle was die naaswenners in die cha-cha-cha en rumba dansafdeling.
Die volledige uitslae is as volg:
- Revano Swartbooi en Athule August – tweede in baldans en tweede in Latynse dans.
- Roshaan White en Athenkosi Daniëls – eerste in baldans en tweede in Latynse dans.
- Samuel Minnie en Annelique-lyn Ruiters – tweede in baldans en eerste in Latynse dans (’n totaal van drie uit vyf danse gewen)
- Mitchell Claasen en Andrieka Swartbooi was vierde in Latynse dans.
- Regan Afrika en Britney Ward tweede in Latynse dans.


