Katie Orie, ma van Petrus Van Wyk sit bedroef in die voorkamer van haar huis in Marigoldstraat. foto:nolan venter


’n MOEDER van die Newtownwoonbuurt in Fort Beaufort is platgeslaan nadat haar enigste seun voorverlede Sondagmiddag op haar werf met ’n windbuks noodlottig in die hart gewond is. 

Die 37-jarige Petrus van Wyk het skaars vier meter van haar voordeur aan sy wond beswyk.  Katie Orie (57), ma van die oorledene, rangskik die afgelope paar jaar blomme vir kiste by ’n plaaslike begrafnisonderne- mer. Sy het nou die hartseertaak om hierdie naweek haar eie kind se blomme te rangskik.

Mid-Karoo Express het ’n oog-lopend aangedane Orie die week by die opening van ’n groot markiestent, wat vir Saterdag se begrafnis gehuur is, ontmoet.  Die hartseer was duidelik in haar oë sigbaar. Sy het verduidelik hoe sy dié noodlottige middag van die kerk gekom het. Sy was nog besig om gereed te maak om by ’n ander woning met ’n bedroefde familie te gaan simpatiseer toe sy skielik ’n harde geluid buite hoor. 

“Ek het uitgegaan om vas te stel wat fout is en was net betyds om te sien hoe my kind inme- kaarsak. Om jou enigste seun so voor jou te sien sterf is glad nie lekker nie.” 

Volgens Orie het die verdagte doodluiters met sy windbuks oor die pad gestap nadat hy dit op kort afstand na haar seun afgevuur het.

“Ons is dan bure en bly in dieselfde straat, hy kon mos met my oor my seun kom praat het as daar enige misverstand tussen hulle was,” het ’n bedroefde Orie gesê.

Luidens Orie was haar seun kinderloos en ongetroud. “Toe my seun so leweloos voor my oë lê kon ek nie eers huil nie. Ek het eers 03:00 die volgende oggend gehuil.  Hierdie is ’n klein gemeenskap en ons kan nie so onder me-kaar bly nie.”

Van Wyk word hierdie Saterdag ter ruste gelê.

Intussen is die verdagte, Raynie Douglas (62) Dinsdag ná ’n tweede verskyning op borgtog vrygelaat. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article