Gebarste pype soos dié waaruit water sypel is maar een van vele waterprobleme op Fort Beaufort. Foto: NOLAN VENTER


INWONERS van die woon- buurt Newtown op Fort Beaufort is warm onder die kraag en dít oor noodsaaklike dienste op dié dorp wat sonder vooraf kennisgewing onderbreek word.

Nie net was hulle onlangs vir meer as ’n week sonder water nie, maar die krag gaan ook sonder enige waarskuwing af.

Waar ’n munisipale voertuig voorheen deur die woonbuurt se strate gery en oor ’n luidspreker aankondigings oor krag en water gemaak het, gebeur dit nie meer nie.

’n Kerk in Newtown-woon-buurt wat onlangs hul brigade se 15de bestaansjaar gevier het, moes voorverlede Sondag skarrel om water in ’n munisipale trok afgelewer te kry nadat meer as 1 000 gaste van elders op die dorp toegesak het om te deel in die kerk se feesvieringe.

“Ons moes daardie naweek ons kop in skaamte laat sak oor die gebrek aan water,” het Sylvia White, ’n kerkraadslid aan Mid-Karoo Express gesê.

’n Inwoner wat jare lank vir Waterwese gewerk het, het onkunde van werkers vir die waterkrisis blameer.

“Van die ouens wat daar werk het geen benul van hoe die pompe werk of instand gehou moet word nie,” het David White gesê.

Raadslid Elten Bantam van die Raymond Mhlaba-munisipaliteit het by navraag bevestig dat die dorp tans probleme met van sy waterpompe ondervind.

“Nog ’n uitdaging is dat ons ondergrondse waterpype verouderd is. Ons herstel op een plek ’n gebarste pyp en dan bars daar net weer nog een op ’n ander plek.”

Hy het belowe om sy raad aan te spreek rondom vooraf kennisgewing vir die onderbreking van dienste. Dele van Fort Beaufort was die afgelope Maandag en Dinsdag sonder krag en veral by skole het dit tot grootskaalse ontwrigting aanleiding gegee omdat eksamenvraestelle nie gedruk kon word nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article