’n FORT Beaufort-gebore geneesheer wat diep spore in die gemeenskappe van onder meer Adelaide, Bedford en Fort Beaufort getrap het, het onlangs op die rype ouderdom van 65 uit die geneeskunde getree.
Mid-Karoo Express het hierdie merkwaardige arts onlangs by sy ruim kontreiwoning in die buitewyke van Adelaide besoek om met hom te gesels oor sy loopbaan van vier dekades, wat hy met soveel passie en toewyding uitgeleef het.
Dr. Piet Luttig, wat onlangs sy 65ste verjaardag gevier het, is op Bo Blinkwater – ’n plaas in die Fort Beaufort-distrik – gebore. Sy eerste drie grade het hy op ’n plaasskool daar voltooi. Dis ook aan hierdie einste plaas dat hy sy drietaligheid te danke het.
“In die skool het ek in Afrikaans en Engels geleer, maar smiddae met my plaasvriende in Xhosa gespeel,” het Luttig gesê.
Vanaf die destydse standerd twee tot vyf het hy op Adelaide skoolgegaan en later aan die Hoërskool Grens in Oos-Londen gematrikuleer. Hy is ná matriek weermag toe waar hy in die lugmag ’n tyd lank lugverkeersleier was. “Ek het later tweede-luitenant geword en medies was destyds nie eers in my wildste drome nie.”
In 1973 is Luttig na die universiteit van Pretoria waar hy B.Sc. studeer het. Sy pa is in Desember van daardie selfde jaar in ’n noodlottige ongeluk op die Bo Blinkwater-plaaspad oorlede. Luttig moes toe die skaap- en beesboerdery op die plaas oorneem. Sy ma en oom het egter besluit dat hy medies moet gaan studeer. In 1974 het hy vir sy studies aangetree en in 1979 het hy as geneesheer gekwalifiseer.
In April 1980 het hy in die huwelik getree met Annelise Dietrichson en ’n dogter, Clarien, is uit die huwelik gebore.
Luttig het sy huisdokterjaar in 1980 by die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth begin. In 1981 het hy onder leiding van dr. Ray Bosman by die Provinsiale Hospitaal in PE gewerk, waar hy hoofsaaklik kardiologie gedoen het.
In 1982 is hy terug na Livingstone-hospitaal waar hy in narkose, sowel as kindergeneeskunde gepraktiseer het. Toe dr. Louwtjie du Toit Adelaide in 1983 verlaat, het dr. Charles Louw vir Luttig gevra om as vennoot by hom aan te sluit.
Met die Adelaide-hospitaal, wat eers ’n staatsondersteunde hospitaal was, se omskepping in ’n staatshospitaal in 2012, is Luttig genader om voltyds vir die Oos-Kaapse gesondheidsdepartement te werk.
Luttig het aan Mid-Karoo Express enkele van sy loopbaanhoogtepunte uitgelig. “Ek was vir ’n volle 25 jaar distriksgeneesheer en het ook lykskouings vir Fort Beaufort, Adelaide en Bedford gedoen. Vir 10 jaar was ek ook munisipale raadslid en was vir die laaste vier jaar voor 1994 se algemene verkiesing burgemeester van Adelaide.”
Luttig raak liries as hy van die personeel praat saam met wie hy deur die jare gewerk het. “Hulle het later vir my soos familie geword. Saam het hulle met my deur die loopgrawe van die geneeskunde gestap. By hulle het ek ook baie geleer. Hulle het my later sommer oom Piet genoem,” het Luttig gesê. “Moet nooit die fout maak om nie by iemand wat minder ondervinding as jy het te leer nie. “Nooit was ek vir ’n enkele dag spyt dat ek die mediese beroep gekies het nie,” het Luttig gesê.
Luttig skroom nie om sy bewondering vir plattelandse dokters uit te spreek nie. Hy beskou hulle as die voetsoldate van die geneeskunde omdat hulle alles doen.
Personeel van die Adelaide-hospitaal het onlangs vir Luttig ’n afskeidsfunksie gehou waar die trane behoorlik gevloei het.
Alhoewel die gesin dit oorweeg om moontlik later nader aan hul dogter in Kaapstad te trek, sê Luttig dat hy sou verkies om sy laaste jare op Adelaide deur te bring. Dis ook hier waar hy sy laaste asem wil uitblaas.
“Hier het ek ’n leeftyd deurgebring. As ek hier moet weggaan sal ek te veel dinge mis. Die vars lug en ruimte van ons kontreihuis, die sinkplaatpad na ons oprit en natuurlik die mense wat die afgelope 40 jaar vir my familie geword het.”


