CRADOCK se oudste inwoner het haar 100ste verjaarsdag met ’n gesellige byeenkoms in die Sonskyn-saal in Michausdal herdenk.
Rachel Koopman (gebore Plaatjies), is onder haar vriende en familie bekend as ‘Ou Piekanien’.
Sy is op 29 Junie 1919 op die plaas Orange Grove buite Cradock gebore.
Nadat haar ouers vroeg gesterf het, het die Michau-gesin van Orange Grove na Rachel omgesien totdat sy met Adam Koopman getroud is en hulle op die plaas Braemore, ook in die Cradock-distrik, gaan woon het.
Hulle het in die laat sewentigs Cradock toe getrek waar Adam haar later ontval het.
Rachel en Adam het nege kinders gehad waarvan hulle vyf aan die dood moes afstaan.
Haar groot gesin bestaan tans uit vier kinders, 19 kleinkinders, 43 agter-kleinkinders en 23 agter-agterkleinkinders wat haar almal “Mamma” noem.
Rachel is baie geliefd en word deur haar gesin met respek as nederig, liefdevol en vriendelik beskryf.
Sy geniet nog goeie gesondheid en haar gesin is dankbaar om haar nog in hul midde te hê.
Eregaste by die partytjie was Ray Shweni, Cradock se burgemeester, en eerwaarde Zwelidumile Tom.



