Blomme, net waar jy kyk, in die Anglikaanse kerk op Middelburg tydens die afgelope naweek se Blommefees. Foto: ELSABÉ PIENAAR


NAGENOEG 40 jaar gelede het Eve Mein-tjies, ’n inwoner van Middelburg, op besoek aan Engeland gesien hoe inwoners van klein dorpies blommefeeste hou met dít wat in hul eie tuine gegroei het.

Geïnspireer hierdeur, het sy met haar terugkeer voorgestel dat Middelburg iets soortgelyks aanpak.

Sedertdien maak dames van die verskillende gemeentes op die dorp jaarliks so, en word elk van die kerkgeboue om die beurt hiervoor gebruik.

Vanjaar se blommefees is in die geskiedkundige Anglikaanse kerkie aangebied, en Wendy van Lingen was die sameroepster.

Mid-Karoo Express is Vrydagmiddag ge-nooi om dié fees van geur en kleur te kom beleef, en wát ’n fees was dit nie!

Met die intrapslag is jou reuksintuig begroet met ’n swaar, maar aangename soet mengsel van al wat ’n blom is, terwyl die laatmiddagson instroom deur die pragtige gebrandskilderde vensters hoog teen die muur.

Ons het met Wendy gesels terwyl sy en haar helpers van die plaas Temple Farm, Poppie Jacobs, Nicky Naidoo en Jason Roberts, die ruikers lawe met gieters en sproei-bottels.

“Die hele idee is dat ons blomme moet gebruik uit die onmiddellike omgewing, en dít is dan wat ons doen ook. Wat jy hier sien, kom alles uit Middelburg se eie dorps- en plaastuine,” vertel Wendy.

“Álmal spring in en help, en die sowat 150 ruikers wat ons dié keer ontvang het, is die handewerk van ’n hele klompie dames uit die verskillende gemeentes van ons dorp.”

Dit is voorwaar ’n wonderlike tradisie – as jy dit vanjaar misgeloop het, hou volgende jaar Mid-Karoo Express se weeklikse dagboek dop en maak ’n knoop in jou oor hiervoor.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article