EEN van Mid-Karoo Express se korrespondente is onlangs self in die kollig geplaas toe sy ’n medalje vir haar 50-jaar lange stryd teen diabetes ontvang het.
Teresa Opperman, ’n korrespondent van Hofmeyr, is die 8ste ontvanger van die medalje in Suid-Afrika sedert 1980. Sy is die eerste persoon in die Oos-Kaap wat die medalje ontvang.
Die medalje word toegeken deur die Joslin Diabetes Medical Institute, ’n onderafdeling van die Harvard Mediese Universiteit in Boston, Amerika. Dit word toegeken aan goedgekontroleerde insulienafhanklike tipe 1 diabete wat hul mediese rekords oor 50 jaar kan toon
Teresa is op agtjarige ouderdom op 4 Augustus 1968 met Tipe 1 diabetes gediag-noseer – ’n datum wat sy maklik onthou aangesien dit slegs ’n dag voor haar negende verjaardag was.
“Dr. Peter Scholtz was ons huisdokter en die oomblik toe my ma aan hom verduidelik wat my simptome is, het hy onmiddellik die nodige urine-toets gedoen en bevestig wat my diagnose is,” het Teresa gesê.
“Ek hoor deesdae van soveel diabetiese kinders wat eers in ’n koma is voordat daar vasgestel word wat hul makeer. Alle eer dus aan dr. Scholtz vir sy diagnose.” Sy het hom ’n tyd gelede gaan opsoek in die ouetehuis op Oudtshoorn waar hy sy laaste jare deurgebring het, om hom vir sy spoedige diagnose en die begeleiding wat hy destyds aan haar ouers gegee het, te bedank. Scholtz is in 2017 oorlede.
“Hy het my onmiddellik herken, hoewel hy my meer as 30 jaar laas gesien het,” het Teresa gesê. Ten tye van my diagnose was insulien-afhanklike diabetes Tipe 1 onder kinders baie skaars. Ek was die enigste bevestigde geval in ’n groot radius en insulien vir gebruik deur kinders was nie geredelik beskikbaar nie. Die eerste insulien waarmee ek behandel is, was van varke afkomstig en het ook ernstige newe-effekte gehad, soos duike wat in die vel gevorm het en ook soms ’n tipe allergiese reaksie. Later jare is honde-insulien gebruik. Daarna was ek op menslike insulien en deesdae word alle insulien kunsmatig vervaardig.”
Insulien-afhanklike Tipe 1 diabetes is ’n outo-immuun siekte waar die liggaam die pankreas aanval en vernietig. Tipe 2 diabetes is die gevolg van ongesonde eetgewoontes.
“Voor glukometers, wat eers in die 1980’s in Suid-Afrika beskikbaar gestel is, moes diabete elke ses weke gehospitaliseer word vir ’n nag sodat daar gevas kon word, en dan is die bloed die volgende oggend getrek. Die uitslag was eers ná vyf dae beskikbaar,” het Teresa vertel.
Die ontvangs van die medalje is vir Teresa ’n groot mylpaal in haar lewe.
“Ek is benoem deur my endokrinoloog, dr. Gracjan Podgorski. Sover hy weet, is ek die eerste tipe 1 diabeet in die Oos-Kaap wat die toekenning ontvang het,” het sy gesê.
Teresa se gr. 3-onderwyseres, Zydia Opperman, wat met haar diagnose haar klasonderwyseres was, saam met Suster Lulu Hattingh wat die saalsuster was in die kindersaal E van Cradock Provinsiale Hospitaal waar sy behandel is, en haar oudste suster, Linda Fourie, het die nodige dokumentasie voorsien om haar diagnose en lewe met Tipe 1 diabetes te bevestig.
“Ek is nou ook betrokke by die Joslin Diabetes Medical Institute navorsingsprogramme om diabete in die toekoms te help met metodes van beheer en bestuur.
“Ek bedank graag my eggenoot, Roelf Opperman en my kinders en naby vriende en familie wat my deur soveel lae suiker-krisisse in my lewe gedra en bygebring het. Ek is ook besonder bevoorreg dat ek voorwaar nooit in die 50 jaar ’n Diabetiese Keto-Asedose aanval gehad het nie. Ek het geringe agtergrond oogskade, maar dit beïnvloed nog nie my sig nie, en geen verdere diabetiese komplikasies nie. Daarvoor gaan alle eer aan Hom wat my daagliks begelei op hierdie pad wat ek stap,” het sy gesê.




