CRADOCK se Evergreens-rugbyspan het die seisoen met momentum begin en is besig om hul naam hoog onder toeskouers te hou.
Die klub het op 23 Februarie teen die Cradock Lions uitgedraf op die veld wat alom as die “House of Pain” in Lingelihle bekendstaan.
Die Lions, bekend vir hulle kraglopies en rolmaal-bewegings wat elke keer in drieë omskep word, se taktiek het nie geslaag nie aangesien die Evergreens goed hierop voorbereid was.
Die Lions het eerste bloed geruik, maar dit was net ’n aansporing vir die vasbeslote Evergreens wie se inklimspel net te veel was en hulle met 15-12 laat wen het.
Op 2 Maart het die Evergreens teen die Born Fighters, ’n groot uitdaagbeker-klubrugbyspan van Somerset-Oos, te staan gekom. Dié was ’n klipharde wedstryd wat enige tyd enige kant toe kon gaan. Die wedstryd het as voorbereiding gedien vir Born Fighters wat eersdaags met hul liga-verpligtinge moet begin.
Fighters het die eerste punte met ’n skepdoel reg voor die pale aangeteken. Born Fighters het hulle lelik vasgeloop teen die Evergreens wat met 14-3 as wenners uit die stryd getree het.
Die eerste reserwe-span van Evergreens was ook in ’n taai wedstryd betrokke waar albei spanne gesukkel het om punte aan te teken.
Die eindtelling was 7-5 in die guns van Evergreens wat welverdiend met ’n strafdoel beloon was. Evergreens se bestuur is trots op al die spelers en het hulle versoek om só voort te bou en vanjaar as topspan uit die liga te tree.

