VERVOLG VAN BL. 1

BNLM hou vol dat Eskom op sy beurt geld aan die munisipaliteit skuld.

“Die munisipaliteit het voorgestel dat die twee bedrae teen mekaar afgeskryf word, maar Eskom blyk nie hiervoor te vinde te wees nie. Die munisipaliteit, in samewerking met die departement van samewerkende regering en tradisionele sake, ondersoek tans regsopsies.”

Inwoners en besigheidseienaars van Willowmore wat Maandag antwoorde gesoek het tydens die BNLM burgemeesters-uitreik in die dorp, het teleurgesteld huis toe gegaan.

“Ons is omgekrap,” het ’n inwoner aan Mid-Karoo Express gesê. “Ons het geen antwoorde gekry op ons direkte vrae nie. Die munisipaliteit se hoof finansiële beampte kon nie eens antwoord hoeveel krag maandeliks gebruik word, en hoeveel in praktyk werklik betaal word nie. Dit blyk dat die Eskombetaling geen prioriteit geniet nie.”

Linda Henderson, eienaar van Karoo Flavours op Steytlerville, was genoop om haar onderneming se deure te sluit.

“Ons werk met kos waarvan die koue ketting nie onderbreek kan word nie – dit sal gesondheidsgevare inhou. Ek kan nie my besigheid sonder elektrisiteit bedryf nie. Hierdie situasie het ’n katastrofiese uitwerking op ons dorpie se ekonomie wat reeds onder geweldige druk is,” het Henderson gesê.

Jane Zaayman, vulstasie-eienaar op Willowmore, is verlig oor die tydelike opheffing van kragonderbrekings.

“Paasnaweek lê voor. Dis ’n besige en belangrike tyd vir ons sakesektor. Met ’n krag-opwekker kan ons vulstasie net een voertuig op ’n slag hervul, en besighede wat motoriste van verversings voorsien, kan ook nie funksioneer sonder elektrisiteit nie.”

Verteenwoordigers van die drie geaffekteerde dorpe se besighede win tans regsadvies in ten einde te verhoed dat hulle teen 16 Mei weer in dieselfde krisis gedompel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article