INWONERS van Jansenville, Willowmore en Steytlerville het verlede week met dankbaarheid verneem dat ’n nuwe ooreenkoms tussen Eskom en Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit bereik is.

Dít volg op ’n tydelike opheffing van beurtkrag wat Eskom van 11 tot 16 April, op dié drie dorpe toegepas het as gevolg van lank uitstaande Eskom-skuld aan die kant van BNLM.

Die onderhandelinge met Eskom is oorgeneem deur die LUR’e vir finansies en samewerkende regering en tradisionele sake in die Oos-Kaap. Inwoners van die drie geaffekteerde dorpe het intussen ook regsadvies ingewin, en via die kantore van prokureur Derek Light druk toegepas op sowel Eskom as BNLM om hul op hoogte te hou van vordering in onderhandelings.

Die munisipaliteit het verlede Donderdag bevestig dat ’n ooreenkoms met Eskom aangegaan is waarvolgens BNLM die maandelikse Eskom-rekening op datum sou hou en die agterstallige skuld sal begin afbetaal met ingang van 1 Julie.

Die terugbetalings is geskeduleer om plaas te vind oor ’n tydperk van vyf jaar, en indien die munisipaliteit daarin slaag om nie van hierdie skedule af te wyk nie, sal geen rente gehef word nie. Inwoners is steeds bekommerd dat BNLM, wat gebuk gaan onder ’n maandelikse kontantvloeitekort, nie dié Eskom-betalings sal kan volhou nie. Volgens BNLM se woordvoerder, Wilca Smith, doen die munisipaliteit egter tans alles moontlik om agterstallige debiteureskuld in te vorder.

“Tot op datum is die huidige Eskom-rekening betaal soos ooreengekom,” het Smith aanMid-Karoo Express bevestig.

Light is versigtig optimisties en het bygevoeg, “Ons vertrou dat die munisipaliteit sy verpligtinge teenoor Eskom – soos in die ooreenkoms vervat – sal nakom, maar indien hulle nie daarin slaag nie, en indien Eskom weer met kragonderbrekings sou dreig, sal ons alle moontlike stappe doen om sodanige situasie te voorkom.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article