Elzbie Cronjé aan die brei in haar winkel. Foto:WILNA DE KLERK


DAAR is min mense wat by Elzbie Cronjé van Cradock kan byhou as dit by brei kom.

Sy het haar eie wolwinkel, Die Wol en Breihoekie, en as sy nie kliënte help nie, klik haar naalde aanmekaar.

Elzbie vertel dat sy op skool leer brei het en baie lief is daarvoor. Dit is ook vir haar heerlik om patrone uit te pluis as iemand kom hulp vra met ’n patroon wat nie lekker wil uitwerk nie. Sy brei ook graag popklere en as iemand ’n pop vir haar bring, trek sy hom mooi aan.

Voor sy haar winkeltjie in 2008 oopgemaak het, het sy graag op bestelling vir mense gebrei en toe Cradock Noord se kerk ’n uitreik na die Transkei beplan en daar gevra word vir truitjies vir kinders in ’n kinderhuis, het Elzbie ywerig aan die werk gespring en sekerlik die meeste van die sestig truitjies wat benodig was, gelewer.

Ná sy die Wolhoekie begin het, het sy blokkies gebrei om aanmekaar te las vir truitjies vir die heel klein kindertjies by die ACVV se Hasie Kalbassie speelskool.

“Die truitjies was so populêr dat ek toe uiteindelik begin het om vir al dertig kindertjies in die skool elkeen ’n truitjie te maak. In die begin het ek moue ingesit, maar ons het gevind die moue is in die pad wanneer die kleinspan begin hardloop en speel en nou maak vir hulle gilets,” het sy vertel.

“Mense uit die dorp help ook om blokkies te brei en ek sit die laaste vyf jaar ’n mandjie met wol, naalde en instruksies by elke dokter se spreekkamers sodat pasiënte ’n paar rye kan brei terwyl hulle vir afsprake wag. Party blokkies eindig in ’n vreeslike groot geknoei, maar van hulle maak ons kombersies vir die katte by die diereskuiling,” het sy laggend vertel.

’n Klompie jare gelede het die polisie op baie kort kennisgewing gevra dat sy hulle gou help met sagte speelgoed vir ’n kersboom. Daar was nie tyd om van voor af te brei nie en die blokkies het handig te pas gekom.

“Ek kon sommer vinnig vir hulle poppe,bere en selfs ’n skilpad van die blokkies aanmekaar sit,” het sy vertel.

Elzbie maak ook graag uitrusting vir Barbie-poppe en daar is ook truitjies te koop in die winkel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article