By die Elizabeth Jordaan-tehuis se nuwe dam is, voor van links, Levina Nel, Tersia Michau en Truda Beukes. Agter is JP le Roux, Willem Klopper en Benita Moolman. foto:WILNA DE KLERK

’n DAM is by die Elizabeth Jordaan-tehuis vir bejaardes en gestremdes opgerig om die voortslepende probleme met watervoorsiening, waaronder Cradock inwoners die afgelope 5 jaar gebuk gaan, die hoof te bied.

Die bouwerk is deur Mortimer se boere-vereniging, onder aanvoering van JP le Roux, gedoen.

Volgens Le Roux het hy bewus geword van die waternood wat die tehuis tref en het hy boere in sy omgewing genader vir donasies.

Hy sê hy was so opgewonde oor die reaksie van die mense en het gou-gou genoeg geld gehad om die projek deur te voer.

’n Dam wat 100 000-liter water kan hou, is op die perseel van die tehuis opgerig.

Levina Nel, bestuurder van die tehuis, sê sy kan nie genoeg dankie sê vir die geweldige groot skenking nie.

“Alhoewel baie mense in krisistye vir ons water gebring het, en ons baie dankbaar daarvoor is, was dit nooit genoeg nie,” het sy gesê.

Nel het ook bygevoeg dat hulle bo en behalwe die gebruik van water vir die was van die bejaardes, dit ook gebruik vir kos-maak en drinkwater en daar word daagliks 60 lakens vanuit die siekeboeg gewas.

Sy het ook gesê dat hulle ’n paar JoJo-watertenks ontvang het, maar dat dit nog nooit genoeg was nie.

“Met hierdie pragtige dam wat aangelê is om water te voorsien aan die woonstelle, kamers en siekeboeg is die probleem nou opgelos.”

Sy het Le Roux gevra om hul hartlike dank aan al die skenkers oor te dra.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article