DIE 66-jarige vroulike pensioenaris wat twee weke gelede kort na middernag in haar huis op Adelaide oorval en wreed met ’n hamer aangerand is, het met Mid-Karoo Express gesels oor die gebeure van daardie nag.
’n Opvallend getraumatiseerde Molly Snayers wat verlede Vrydag uit die hospitaal op Adelaide ontslaan is, sterk tans by haar tweelingsuster se woning op dié dorp aan.
Sy kon nog nie die moed bymekaar skraap om na die huis te gaan waar sy so byna vermoor is nie. Snayers het haar angsvolle oomblikke op dié betrokke aand met Mid-Karoo Express gedeel.
Luidens Snayers het sy, nadat sy reeds deur haar aanvaller voos geslaan is, die badkamervenster oopgemaak en probeer om daardeur weg te kom. Sy is egter deur haar aanvaller teruggepluk en in die bad gedompel. Wasgoed, ’n skottel en emmer is toe op haar gegooi waarna ’n laaste hou met die hamer teen haar kop geslaan is.
“Ek het toe maar besluit om my dood te hou en het roerloos in die bad bly lê. Ek het regtig gevoel of ek gaan sterf.”
In dié tyd het sy haar aanvaller met iemand buite hoor praat. Hy het toe reeds die geld wat sy hom aangebied het, geneem asook die kaart waarin haar maandelikse pensioen inbetaal word.
Snayers het daarin geslaag om na haar sekuriteitshek te kruip, dit oopgesluit en met groot moeite oor die pad gesukkel om hulp te gaan soek. Toe sy nie haar buurvrou wakker kry nie, het sy voel-voel draadlangs tot by haar broer se huis ge-strompel waar sy inmekaargesak het toe hulle die deur oopmaak.
Luidens Snayers is haar huis redelik goed beveilig. Daar is koeëlvaste vensters en sterk sekerheidsdeure aan sowel die voor- as agterkant. Selfs dit kon egter nie haar aanvaller buite hou nie. Snayers, wat in die woonbuurt bekend is vir haar sagte geaardheid het aan Mid-Karoo Express vertel dat sy nooit sal ophou om goed te doen aan haar medemens nie. “Ek sal in die toekoms net versigtiger wees,” het sy gesê.
Twee verdagtes is aangekeer. Een van die verdagtes het verlede week in die landdros-hof op Adelaide verskyn. Hy is nie gevra om te pleit nie en bly in aanhouding tot sy volgende verskyning. ’n Tweede verdagte wat minderjarig is, is in die sorg van sy ouers vrygelaat.

