Die reuk van varsgemaalde koffiebone wat in Willowmore se strate hang, laat ’n mens se voete na Belly Deli lei. Foto’s: Elsabé Pienaar

Die somer is hier en beloof om weer ’n warm een te wees. Só, met dit in gedagte en die Oos–Kaapse droogte, waarvan die einde nog nie in sig is nie, is dit belangrik om te weet waar om jou dors te les as jy deur die Karoo reis.

Willowmore spog nou nie net met pragtige ‘mophead’ bome wat die hoofstraat van koelte voorsien nie, maar ook ’n nuwe eetplek, Belly Deli.

Die uitdagings wat COVID-19 in die restaurantbedryf meegebring het, was nie genoeg om Santa van der Merwe te intimideer nie. Sy het vroeër vanjaar die restaurant gekoop en in Junie so half-en-half begin funksioneer toe inperkingsregulasies effens verslap is.

Santa kén die hospitaliteitsbedryf en het na 22 jaar in die korporatiewe en finansiële wêreld na Willowmore teruggekeer.

’n Goudgebakte hoenderpastei. Of jy nou met jou maag eet of met jou oë, by Belly Deli sal jy nie teleurge-steld weggaan nie. Foto: Elsabé Pienaar

“Dis vir my vreeslik lekker om weer in Willowmore nes te skrop. Dit is ’n gemoedelike gemeenskap, mens voel maklik tuis en baie van die plaaslikes onthou my nog van jare gelede,” sê Santa.

“Ons het Belly Deli se deure wyd oopgegooi en is regtig lekker besig.”

Miskien is dit ’n tikkie gesonde perfeksie, of ’n oorblyfsel uit haar korporatiewe dae, maar Santa meen stylvolle aanbieding van die kos op ’n bord is net so belangrik soos hoe dit smaak.

“Hier kom baie toeriste en deurrymense – soos ons hulle noem – en natuurlik het ons ook ons gereelde Willowmore-mense en besoekers uit die boerderygemeenskap wat hier kom inloer.

“Ons kry baie goeie terugvoer oor ons tuisgemaakte hoenderpastei en is reeds bekend vir ons geurige lamkerrie. Dan is daar ook die Wagyu burgers wat beslis een van die gewildste items op ons spyskaart is.”

In Belly Deli kan ’n mens jou tuismaak en sit en luister na die rustige musiek terwyl jy vir jou bestellings wag.

Benewens die lekker (én mooi) kosse het Belly Deli die allerheerlikste boeretroos-koffies en cappucino’s wat ook as ’n wegneem-item bestel kan word.

As die langpad nog voorlê kan jy gerus van Belly Deli se tuisgebroude gemmerbier, plaaslik gebakte beskuit en koeksisters in jou mandjie pak. Op die rakke staan daar ook bottels goud en sonskyn – heuning uit die nabygeleë Baviaanskloof.

“Ek ondersteun sover moontlik plaaslike bakkers en verskaffers. Dis belangrik vir die dorp se ekonomie dat ons moet terugploeg,” sê Santa.

Langsaan Belly Deli is Cozy Shed waar ’n groot verskeidenheid wol, lanolienprodukte sowel as geskenke, houtjuwele en serpe te koop is.

Vir meer inligting oor Belly Deli bel hulle by 044 9231 070.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article