Karen McEwan van Fairfield Farm en #mygardentable op Instagram sal tydens die Slow Living-fees ‘n kosdemonstrasie doen met eetbare blomme en organiese slaaibestanddele uit haar tuin.Photo:ELSABÉ PIENAAR


’n UNIEKE samevloeiing van die internasionale Slow Food-beweging en hul “Thank a Farmer”-veldtog vind eersdaags plaas wanneer Slow Food Karoo die eerste Slow Living-fees van stapel sal stuur.

Dit vind plaas van 21 tot 24 Maart, en word by die sportklub van die welbekende en geskiedkundige Wheatlands Farm, sowat 60km suid van Graaff-Reinet op die R75 gehou.

Organiseerder Rose Wright het Mid-Karoo Express meer vertel. “Die hele idee agter die Slow Living-fees is om gesinne na buite te lok om die Groot Karoo se helderskoon lug te geniet, saam-saam bene te rek en die ontspanne atmosfeer van die plaaslewe in te drink.

“Die hele naweek is eerder ’n be-legging in lewensenergie as ’n besteding daarvan, en geskied in ’n prettige, holistiese omgewing.”

Die Wheatlands-sportklub spog met ’n krieketveld, vier tennisbane, ’n plaasdam-swembad en klubhuis.

Tydens die Slow Living-fees kan gesinne kamp opslaan op die krieketveld en die gronde rondom die klubhuis, waar meeste van die naweek se sosiale aktiwiteite ook aangebied gaan word.

“Ons het die mark beplan om saam te val met volmaan, sodat die aande mooi en helder verlig sal wees,” vertel Rose.

Die kossoorte wat aangebied word, sal hoofsaaklik Karoostyl-disse wees.

Verskeie werksessies sal deur die loop van die naweek aangebied word in nabygeleë plaaskombuise, waartydens kursusgangers touwys gemaak gaan word in die kuns van kaasmaak, broodbak, bierbrou en die maak van biltong en droëwors.

Die jongspan kan uitsien na ’n sweepslagkompetisie.

Op die Saterdag van die fees sal daar ’n mark gehou word.

Om ’n stalletjie te bespreek of meer oor die Slow Living-fees uit te vind, stuur ’n e-pos na tasteofkaroo@gmail.com. Om kampeerplek te bespreek, e-pos wheatlandssportsclub@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article