Annelie van der Ryst, mede-eienaar van Celtis Country Lodge en Restaurant, demonstreer saam met Winstone Jordaan (links) en Jaco Botha (regs), hoe elektriese voertuie herlaai gaan word.Foto:JOHANETTE PHOTOGRAPHY


VROEG op Valentynsdag 2019 was die opgewondenheid groot by Celtis Country Lodge en Restaurant op Middelburg, toe die eerste elektriese motor sy energie by die elektriese herlaaipunt kom herlaai het.

Tydens die Sasol Solar Challenge wat Middelburg op 25 September 2018 besoek het, is Celtis Country Lodge en Restaurant besoek deur een van verskeie elektriese voertuie wat in die toekoms nog in Middelburg gaan kom aanklop om “op te vul”.

Jaco Botha, hoof uitvoerende beampte van Solareff, en Winstone Jordaan, besturende direkteur van Gridcars, het toe op hul roete van Johannesburg na Kaapstad in Middelburg aangeklop om die nuwe elektriese herlaaipunt te besoek.

Solareff is ’n gespesialiseerde Suid-Afrikaans-gebaseerde firma vir herwinningsenergie-oplossings, wat veral bekend is vir die installering van sonpanele.

Alhoewel die herlaaipunt in September 2018 nog nie finaal in werking was nie, was die opgewondenheid reeds groot toe die eerste BMW edrive i3 stil-stil by Celtis ingesluip het.

Anders as brandstofaangedrewe voertuie, beweeg die elektriese voertuig bykans geluidloos en was sy vreemde “herlaai-klep” nog interessanter as die voertuig self.

Die beplanning is dat daar ongeveer elke 100km ’n herlaaipunt vir die elektriese voertuie in die toekoms sal wees. Celtis Country Lodge en Restaurant in Middelburg is gekies om die laaipunt halfpad op die roete tussen Gariepdam (by Colesberg) en Graaff-Reinet te wees.

Met die stygende brandstofpryse, gaan son-aangedrewe elektriese voertuie verseker ’n groter oorweging in die toekoms begin raak.

Hierdie tipe voertuie word reeds in groter stede soos Kaapstad en Johannesburg gebruik.

Volgens Jaco Botha is dit egter darem nie altyd nodig om presies elke 100km weer te herlaai nie, aangesien die voertuig self weer herlaai sodra die voet van die versneller verwyder word.

Botha het verder vertel dat die BMW edrive i3 binne 7.3 sekondes van 0 tot 100km/h kan versnel. Die elektriese enjin lewer 125KW en met die 250Nm wringkrag (“torque”) kan die voertuig gemaklik tot 200km ver ry. Danksy die opsionele reeksaanvulling-skakelaar wat aanskakel sodra die energie te min raak, kan die voertuig nog ’n verdere 130km ry indien nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article