VERHOOG-AKTRISE Loané van Sandwyk gaan binnekort haar eenvrouvertoning na gehore in Cradock bring.
“My hart is om mense te laat lag en ook te bemoedig. My nuutste vertoning se naam is Die Hammers. Ek het dit in 2018 by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein opgevoer asook by Doxa Deo in Bloemfontein,” het sy gesê. Van Sandwyk toer vanjaar met dié vertoning en gaan in verskeie provinsies optree.
Op ’n komiese wyse vertel Die Hammers die storie van ’n gesin wat elkeen onsekerhede het.
“As kind het ek gedink dat my ouers geen onsekerhede gehad het nie. Hulle was van daardie wonderlike mense wat hulle probleme vir hulself gehou het. Toe mettertyd het ek besef dat die mate van onsekerheid vergroot soos wat jy ouer word,” het Van Sandwyk gesê.
“Die las van onsekerheid begin al meer skaaf. Dan kom jy by ’n plek, jy voel alleen met jou onsekerhede, durf daaroor praat en dan hang die persoon oorkant jou se mond oop en jy kry ’n, ‘Wat? Jy ook?’ En daar bars albei uit van die lag en voel beter, want julle is nie meer alleen nie.”
Die Hammers sal op 14 Maart om 18:30 in die Cradock Voorbereidingskoolsaal te siene wees. Kaartjies teen R70 per volwassene en R40 per skolier sal by die deur te koop wees.



