Wyle John Schaup (90). Foto:VERSKAF


TAMBOEKIESVLEI by Hertzog in die Katriviervallei het oor die Kersvakansie afskeid geneem van een van sy oudste inwoners.

Die 90-jarige John Schaup, beter bekend as oom Babietjie, is op 29 Desember aan nierversaking oorlede nadat hy ook ’n tyd lank teen prostaatkanker ’n stryd gevoer het.

Mid-Karoo Express het verlede jaar oor wyle oom John berig toe hy sy 90ste verjaardag met ’n All Black-koek gevier het.

Met sy heengaan het huldeblyke van heinde en ver ingestroom weens die diep spore wat hy in die gemeenskap gelaat het.

Hy was een van slegs ’n handjievol wat in die tagtigerjare geweier het om vanuit Hertzog na Fremersheim naby George te trek. Baie bruin- en swartmense is uit die destydse Ciskei-regime van president Sebe uit hul geboorteplekke ontwortel.

Oom Babietjie het vasgeskop en tot en met sy heengaan in Tamboekiesvlei met onder meer skape en beeste geboer. In sy tyd was hy onder meer bouer, skrynwerker en ook loodgieter.

Hy is op Saterdag, 5 Januarie, onder wye belangstelling vanuit die VGK-kerk op Hertzog begrawe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article