CRADOCK gemeenskapsduiwehokke wat vroeër vanjaar ruimskoots donasies aan vyf instansies op die dorp geskenk het, skud hul vere nou reg vir wedvlugte waar een gelukkige kaartjiehouer dalk ’n motor kan wen.
Duiwetelers van oor die hele land skenk jong duifies aan die projek, waar dié duiwe dan vanaf Cradock vir gemeenskapsprojekte gaan vlieg.
Volgens Charl du Plooy, voorsitter van die gemeenskapshokke, het hulle reeds 110 duifies vanaf so ver as die Kaap, Natal, Grahamstad, Port Elizabeth, Oos Londen en omliggende dorpe ontvang.
Die organiseerders verwag dat ten minste 500 duifies aan die 2020 wedvlugte gaan deelneem.
“Die duifies,” sê hy, “word aanvanklik onder kwarantyn geplaas wanneer hulle ingespuit, ontwurm en gedip word.”
Hierdie jong duifies pas nou aan in hul nuwe tuiste by die Cradock gemeenskapsduiwehokke. Met tyd sal hulle dié hokke aanvaar as hul “huistoe-kom-hok” wanneer hulle begin oefen of aan wedvlugte deelneem.
Die eerste klomp, wat bedags tyd in ’n sifhok buite die duiwehok deurgebring het sodat hulle die omgewing kan leer ken, is reeds reg om oopgemaak te word om ’n bietjie te vlieg en vir hulle baakens vas te stel.
Volgende jaar, wanneer die hokke vol is, sal die duiwe op kort oefenvlugte gaan voordat hulle die langer wedvlugte aanpak.
Ondersteuners van die projek gaan volgende jaar geleentheid kry om kaartjies vir ’n gelukkige trekking te koop en sal dus so ’n kans te staan om die beplande motor te wen. Daar sal ook ’n veiling wees waar belangstellendes duiwe kan “koop” wat dan namens hulle sal vlieg.
Wanneer die projek in ongeveer September 2020 tot ’n einde kom, sal die duiwe weer verkoop word en die hok skoongemaak word vir die inname van die daaropvolgende jaar se klompie jong duiwe.



