Joan van Heerden (Kankersorg), Giana de Beer (Elizabeth Jordaan-tehuis), Charl du Plooy (voorsitter: Cradock Community Lofts), Rika Dannhauser (ACVV) en Gerda Marais (Vukazebenza Skuiling). foto:WILNA DE KLERK


CRADOCK Community Lofts het hul mededeelsaamheid bewys deur ruim skenkings aan vyf plaaslike instansies in die dorp te maak.

Volgens die voorsitter, Charl du Plooy, het hulle kaartjies teen R100 stuk verkoop en kon die publiek, wat ’n duif vir ’n vlieggeleent-heid “gekoop” het, ook daarmee groot pryse wen.

Skenkings is gemaak aan Cradock Kankersorg (R11 000), die Laerskool Cradock (R10 000), Cradock ACVV (R3 000), Elizabeth Jordaan-tehuis (R5 000) en Vukasebenza Skuiling (R3 000).

Die pryse vir kaartjiehouers was R10 000, R3 000, R2 500, R2 000, R1 500 en R1 000.

Duifeienaars wie se duiwe vir bykans ’n jaar in die Lofts op Cradock was, het van oral in die land op Cradock byeengekom vir die laaste wedvlug wat van Worcester was. Vir die duif wat die wedvlug wen, word ’n prys van R20 000 uitbetaal. Twee weke later word al die duiwe wat huidiglik in die hokke is, ten bate van hul eienaars en die Loft, opgeveil.

Cradock Community Lofts se hokke word dan voorberei vir 500 nuwe jong duifies wat van oral in die land kom.

Volgens Du Plooy is belangstelling so groot dat hulle beoog om eersdaags die Lofts te vergroot om 800 jong duiwe te ontvang.

“Ons moet vir Sarel Marais bedank vir die sukses van die Loft. Hy is die man wat vir die duiwe sorg, hulle voer en afrig. Sonder hom sal dit nie so goed gegaan het nie,” het Du Plooy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article