NÁ amper agt jaar se bediening in die NG Kerk gemeente op Somerset-Oos het ds. Hanneke Janse van Vuren nou besluit om die beroep as predikant van die Kerk van Skotland (Presbiteriaanse Kerk) te aanvaar en op 1 April met die bediening daar te begin.
Sy gaan in Inverness, die hoofstad van die Skotse Hooglande, in ’n gemeente, Ness Bank Parish Church, werk.
“Dit is ’n wonderlike nuwe avontuur vir my en ek sien geweldig daarna uit om in ’n nuwe land en nuwe kultuur te leer wat dit beteken om ‘kerk’ te wees,” het sy gesê.
Ds. Janse van Vuren was die eerste vroulike predikant in Somerset-Oos. Sy was ook die “ma” van die Groen Lewe-projek wat in 2014 begin is en wat vandag ’n groot sukses is.
“Ons gaan Hanneke baie mis. Sy is aangestel in die gemeente met die spesiale opdrag om die jeug- en familiebedieningsnetwerk in die gemeente te vestig en uit te bou. Sy het haar uitstekend van haar taak gekwyt en terselfdertyd ook gegroei en volwasse geword sodat sy ook ander pligte vir die kerk kon vervul,” het ds. Chris du Raan gesê.
Ds. Janse van Vuren het vertel dat sy in Somerset-Oos kom “groot word” het, dat sy in sewe jaar geleer het wat genade beteken en dat sy deel uitgemaak het van ’n familie van gelowiges wat vir mekaar omgee en bystaan maak nie saak wat nie.
“Die hoogtepunt van my bediening was die betrokkenheid van ons gemeente by die #Imagine Jeugbyeenkomste wat elke jaar vanaf 2013 plaasgevind het en toe ons met 160 kinders van Gill-Kollege Kaap toe is vir die eerste #Imagine Experience.
“Daar is soveel mooi herinneringe van my bediening hier – die gevoel van ‘behoort’ in ons gemeenskap en dat ek kon deel wees van ’n familie waarin ek die meeste van die tyd net goedheid beleef het en dat mense werklik vir mekaar omgee en die koninkryksbeginsels van liefde, omgee en gasvryheid in ons gemeenskap leef.”
Ds. Janse van Vuren het gesê sy sal Somerset-Oos mis, maar dat sy goeie herinneringe het om op terug te val.
“Ek sal onthou hoe die visarende my in die oggende wakker gesing het en dat dit gaan reën as die Piet-my-vrou roep, om vroegoggende op pad kantoor toe die kruis teen Bosberg te sien, grondpaaie wat ek ontdek het, die eerste rooibokke wat ek geskiet het en al die mooi natuurtonele wat ek met my kamera “geskiet” het.
“Iets wat ek nie gaan mis nie, is die versengende hitte in Januarie en Februarie.
“Maar wat ek die meeste sal onthou is dat ek kon leer hoe afhanklik mense van mekaar kan, mag en soms moet wees – en dat dit mooi en reg en goed is, want dit is wat “Liggaam van Christus” beteken.”
- Ds. Hanneke Janse van Vuren sal haar afskeidspreek op Sondag, 10 Maart in die NG Kerk Somerset-Oos lewer.


