Die twee seuns wat verkies om anoniem te bly verdien ’n geldjie deur vir inwoners met hul donkiekarretjie op Blinkwater water teen betaling aan te ry. foto:NOLAN VENTER


DIE voortslepende droogte in veral die plattelandse dorpies Adelaide en Bedford is besig om gemeenskappe op hul knieë te dwing.

Reën bly weg. Gevolglik het krane opgedroog en sukkel munisipaliteite om aan die gemeenskappe se waterbehoeftes te voorsien. Op Fort Beaufort, waar ’n goeie reënbui onlangs uitgesak het moet inwoners by watertrokke aantree om water te kry.

By Adelaide is beeste wat in die veld vrek só maer dat eienaars nie meer moeite doen om hulle af te slag nie.

Komani-Karoo Express het dié dorp die strate ingevaar om die situasie van nader te beskou. In die woonbuurt Bezuidenhoutville was kinders en grootmense vroegoggend al met kruiwaens en plastiekbottels op soek na water.

’n Inwoner, Shirley Sammy (60) het aan Komani-Karoo Express haar volge-tapte badkamerbad gewys waarin sy water opgaar vir noodsaaklike gebruik en nie om in te bad nie.

Talle inwoners het gekla dat gebottelde water se pryse sedert die watertekort op die dorp die hoogte ingeskiet het. Op die dorpsplein was ’n inwoner, Thembalethu Mxelo besig om sy beurt by ’n dorpskraan naby die markplein, waar water in ’n dun straaltjie by die kraan uitgeloop het, af te wag.

’n Horde ander mense en bakkies gelaai met leë plastiekkanne het ook hul beurt afgewag.

“Ons kom baie vroeg hier aan en kry baie keer eers teen skemer ’n kans om water te skep,” het Thembalethu moedeloos gesê.

Op Laer Blinkwater bykans 10km buite Fort Beaufort is inwoners al ’n tyd lank afhanklik van water wat hulle uit die Katrivier met donkiekarre aanry.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article