Skape kom met verwagting deur die barre aarde nader as hulle die bakkie met kos hoor aankom. Dit was Cradock se droogste winter sedert 1990 met slegs 0.8 mm reën wat aangeteken is. foto:VERSKAF


VAN die boere in die Cradock-distrik is midde in een van die ergste droogtes ooit en moet ten duurste hul vee voer, terwyl wol- en vleispryse met 30% gedaal het.

Andrew Jordaan, wat al 44 jaar in die Cradock-distrik boer, sê dit is die ergste droogte wat hy nóg beleef het.

“Ek het darem ook grond waarvoor ek water uit die Oranje/Visrivierskema kry, maar ek weet regtig nie wat ander boere doen wat dit nie het nie. Ek het my skape na dié lande verskuif, waar hulle vir elke bekvol moet meeding met die koeie van die melkery,” sê Jordaan.

Volgens hom het die gebied vir drie of vier jaar geen kapok op die berge gehad nie. Gevolglik kon fonteine nie gevoed word nie en dit vererger die droogte.

Hilton Collett, voorsitter van Cradock Distriklandbou-unie, het bevestig dat baie boere reeds hul vee verminder het. Hy sê die dele van die distrik wat die ergste getref word, is Samenkomst en Agtersneeuberg. Commandodriftdam, wat water aan boere in die Elandsdrift gebied voorsien, is reeds vir ’n geruime tyd leeg.

Danie van Rensburg sê dit was nog nooit so droog op sy plaas nie en baie van sy vee-suipings het opgedroog.

“Voer en lusern is baie duur en skaars,” sê Van Rensburg.

Die Oranje/Visrivierskema, wat voortdurend water vanuit die Gariepdam voorsien, is ’n redding vir boere langs die rivier sowel as vir dorpenaars.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerburo, was die midwintermaande Junie, Julie en Augustus in die Cradock-distrik, vanjaar geken vir rekords van geen reënneerslae en ongekende hoë temperature.

In Cradock-distrik het vanjaar, gedurende Augustus, nie ’n druppel reën geval nie. Dit ewenaar die rekord van 0.0 mm wat in 2010 aangeteken is.

Dit was Cradock se droogste winter sedert 1990 met slegs 0.8 mm reën wat aangeteken is. Dit is heelwat minder as die vorige jaar se ge-middeld van 28.4 mm.

Cradock se hoogste gemiddelde wintertemperatuur van 23.7°C is ook aangeteken.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article