INWONERS van die perdeskoen- gedeelte van Graaff-Reinet het nie doekies omgedraai tydens ‘n droogtebewusmakingsveldtog wat deur die departement van water en sanitasie nie op die dorp aangebied is nie.
Die veldtog het dalk anders uitge-speel as wat munisipale en departementele amptenare gehoop het, want inwoners het min belangstelling getoon in die kleurvolle waterbespa-ringspamflette wat uitgedeel is.
Hulle het eerder antwoorde gesoek.
‘n Kennelik uitgeputte raadslid Luthando Mandla is afgevaardig om die Beyers Naudé plaaslike munisipaliteit se departement van beplanning en ingeneurswese te verteenwoordig.
“Ek is doodmoeg want ons ry tot laatnag met munisipale voertuie water aan. Inwoners se frustrasie-vlakke is hoog, wat te verstane is, maar nou word ons trokdrywers onderwerp aan verbale aanvalle – dis nogal demoraliserend,” sê Mandla.
Hoewel inwoners Mandla en munisipale trokdrywers bedank het vir hul volgehoue pogings, was hulle dit eens dat hulle nie met net nóg ’n vergadering tevrede gaan wees nie.
“Al die inligting wat ons vandag gehoor het, het ons reeds al die vorige vergaderings gehoor,” het Hento Davids, voorsitter van die plaaslike besigheidskamer gesê.
“Ons soek nie meer praatjies en vergaderings nie, ons soek aksie en antwoorde.”
‘n Ontredderde Liz Buisman van die Graaff-Reinet belastingbetalers-vereniging (GRRPA), sê sy kan nie verstaan waarom die departement en munisipaliteit nóú skielik met ’n droogteveldtog begin het nie.
“Ons as GRRPA het die munisipaliteit reeds in 2017 versoek om ’n waterbesparingsveldtog van stapel te stuur. Tóé was die dam net 19% vol.
“In Junie 2018 het ek aan Ivor Berrington, bestuurder van beplanning en ingeneurswese, voorgestel dat ons inwoners op die hart druk om hul verbruik tot minder as 50 liter per dag af te bring.”
Maar volgens Buisman het Berrington slegs geantwoord “ons sal dit gebruik as dit nodig is.”
Van ’n munisipale veldtog het egter dadels gekom.
“Teen 50 liter per persoon per dag, sal die dorp se 40 000 inwoners ’n totaal van 2 megaliter per dag onttrek,” het Gerald Buisman somme gemaak.
“As ons inwoners kon inlig om hierby te hou, sou dit beteken dat ons onmiddelik met ’n surplus water sit!”
Hy het ook gewaarsku dat owerhede die lankmoedigheid van Graaff-Reinetters nie langer moet beproef nie.
“Pasop vir die ‘miere’,” het Buisman gesê. “Moet hulle nie kwaadmaak nie.
“As húlle die dag ontwaak en uit die nes peul, sal ons onluste hê soos in die 1970’s en 80’s!”


