Dr Beyers Naudé Munisipaliteit atleet nou ‘n Suid-Afrikaanse rekordhouer

Baie inwoners van Jansenville wat om Endinako Jola staan ​​om hom te verwelkom.
Talle inwoners van Jansenville het Endinako Jola – middel in rooi – by die ingang van die dorp ingewag om hom te vereer met sy terugkeer vanaf die Suid-Afrikaanse kampioenskappe. Credit: Verskaf

Jansenville spog deesdae met ‘n Suid-Afrikaanse rekordhouer in die 3000m-wedloop.

Die 17-jarige Endinako Jola, ‘n Graad 10-leerder van Gcinubuzwe Sekondêre Skool in Jansenville, het onlangs aan die Nasionale Skole-atletiekkampioenskappe in Pietermaritzburg deelgeneem.

Op die eerste dag van die kampioenskappe het hy ‘n derde plek in die 1500m semi-finaal behaal en deurgedring na die finaal, waar hy tweede geëindig en ‘n silwer medalje verower het.

Die volgende dag het hy ‘n welverdiende goue medalje in die 3000m verower nadat hy die eerste plek met ‘n rekordtyd van 08:53 losgehardloop het.

Jola is ‘n toegewyde lid van die #Sinalithemba Atletiekklub in Jansenville en word deur sy pa, Luthando Sikiwe, afgerig.

Die Jansenville-gemeenskap is uiters trots op sy se uitmuntende prestasies op die atletiekbaan regdeur die afgelope atletiekseisoen.

Met sy terugkeer verlede Sondag het hulle hom by die ingang van die dorp ingewag en hom feestelik na die skool begelei om hom te vereer.

Die Oos-Kaapse onderwysdepartement se kringbestuurder vir Baviaans, Barbara Vaaltyn, het hom ook hartlik gelukgewens en hom alle sukses toegewens vir die pad vorentoe in sy atletiekloopbaan.

Beide pa en seun is dankbaar vir almal se volgehoue ondersteuning en hoop dat daar in die toekoms nog baie meer rede om fees te vier sal wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article