CRADOCK se roosterkoek-koningin het haar baie eenvoudige resep met Komani-Karoo Express se lesers gedeel.

Doreen Mtshambela besig om haar roosterkoek te maak. Foto:WILNA DE KLERK

Doreen Mtshambela (56) neem al vir vyf jaar bestellings vir roosterkoek en bak ook Woensdae en Vrydae van haar heerlike lekkernye wat in die dorp verkoop word.

“Toe my man vyf jaar gelede oorlede is, was werk skaars en het ek besluit om vir myself te werk,” sê Doreen.

Sy pas ook bedags haar kleinkind op en versorg twee pleegkinders. Vir haar begin die dag gewoonlik baie vroeg, want sy staan 04:00 op om die suurdeeg aan te maak. Die deeg moet sowat ’n uur later geknie word. Daarna moet dit vir ’n uur rys voordat die deeg uitgerol, in blokke gesny en op die kole gebraai word.

Doreen sê die aanvraag vir haar roosterkoeke is groter op Woensdae as Vrydae. Op dié dag stuur sy 120 roosterkoeke die dorp in, terwyl sy Vrydae so tussen 60 tot 80 lewer. Sy neem ook bestelllings en moes al vir ’n kerkgeleentheid 900 roosterkoeke maak.

Haar klein partytjie-peusel roosterkoekies is net so gewild.

Roosterkoek

Lewer 60

Bestanddele

5kg meel

½ koppie suiker

Sout na smaak

Louwater om te meng

1 Pakkie suurdeeg

Metode

Maak die suurdeeg volgens die instruksies op die pakkie aan en laat staan vir ’n uur.

Meng dan die suiker, meel en sout saam, voeg die suurdeeg by en voeg dan genoeg louwater by om ’n kniebare deeg te vorm.

Knie goed en laat rys vir ’n uur. Rol die deeg uit en sny in blokke volgens die grootte van die roosterkoeke wat jy verlang.

  • Die resep kan gehalveer of selfs in verhouding kleiner gemaak word vir minder roosterkoeke.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article