ESKOM het Maandagmiddag om 17:00 ’n persverklaring uitgereik waarin die publiek in kennis gestel is dat voortgegaan sal word met die onderbreking van elektrisiteitsvoorsiening na Middelburg en Cradock van 4 Junie af.
Dit volg op die Inxuba Yethemba-munisipaliteit (IYM) se onvermoë om te hou by verskeie afbetalingsooreenkomste wat die afgelope twee jaar met Eskom aangegaan is.
Die munisipaliteit skuld Eskom meer as R98 miljoen, en hoewel IYM se munisipale bestuurder, Xolela Msweli, verlede week gesê het dat die Chris Hani-distriksmunisipaliteit (CHDM) namens IYM ’n betaling van R10 miljoen teen Vrydag sou maak, het Eskom teen Maandag nog nie ’n sent betaling ontvang nie.
Inwoners en sake-eienaars van Middelburg en Cradock het Maandag vergeefs probeer om kontak te maak met Msweli en burgemeester Ray Shweni.
Msweli het verlede week aan die Middelburg Sake- en Belastingbetalersforum die versekering gegee dat elektrisiteitsvoorsiening nie onderbreek sou word nie.
Teen 17:00 Maandag is vertroulik verneem dat CHDM wel IYM se aansoek om R10 miljoen hulp ontvang het, maar dat dit na ’n spesiale burgemeesterskomitee verwys sou word wat eers gister (Woensdag, 5 Junie) sou vergader, waarna ’n spesiale CHDM raadsitting ’n finale besluit sou neem.
Volgens Rika Featherstonehaugh, hoofsweep van die DA in die munisipaliteit, is die situasie uiters plofbaar.
“Die impak van die opgeskorte kragvoorsiening sal baie negatief op ons ekonomie en noodsaaklike gemeenskapsdienste soos watervoorsiening en die twee staatshospitale in Middelburg en Cradock inwerk. Ons skole en koshuise is ook bekommerd oor hoe die kragonderbrekings leerlinge se eksamenvoorbereiding sal affekteer.”
Featherstonehaugh het gesê die verdwyning van miljoene rande in die hande van die munisipaliteit se ANC-leierskap bly die grootste vraagstuk.
“Ons het twee jaar gelede R40 miljoen geskuld, en nou het dit opgeloop na R98 miljoen. Buitensporige salarisse en betalings aan kontrakteurs word bo Eskomskuld geprioritiseer.”
Die SA Polisiediens van die twee geaffekteerde dorpe is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas, aangesien inwoners reeds ’n geruime tyd ernstige probleme met munisipale dienslewering ervaar. Tot tyd en wyl IYM daarin slaag om ’n voorlopige betaling te maak wat die elektrisiteitsvoorsiener tevrede stel, kan inwoners van Middelburg en Cradock die volgende skedule kragonderbrekings te wagte wees:
Maandag – Sondag: 06:00 – 20:00
Volgens Eskom sal die 14 uur-lange onderbrekings volgehou word totdat die munisipaliteit die volle bedrag vereffen of ’n betalingsooreenkoms met Eskom bereik en daarby hou. Eskom waarsku egter dat die algehele afsnyding van elektrisiteitsvoor-siening nie van die tafel is nie, en dat hulle met ’n 15-dae kennisgewing wel tot dié stap kan oorgaan indien IYM se skuldsituasie nie verbeter nie.
Lees ook: Motion to interdict Eskom from implementing outage to be heard today


